“Bazaar Punk takes us on an emotional journey: we not only accompany a man on his homecoming, but also witness a band returning to its roots and offering proof of life long after it had been pronounced dead.” This is an extract from Stefan Schutte’s review of the Brixton Moord & Roof Orkes’ album “Bazaar Punk”, published by the South African Rock Encyclopedia. In an overview of the album, its background, as well as a blow-by-blow account and analysis of each of the albums songs, Schutte provides one of the best appraisals of the band’s history and its approach to rock music.
Van die album “Bazaar punk” (2022). Die video is gemaak met uittreksels uit films van Buster Keaton en Charlie Chaplin, asook Alfred Hitchcock se klassiese film “Vertigo”. Geen video oor mense wat beter weet hoe om te val as om te stap kan sonder daardie verwysing nie.
Die tune is van lank gelede, maar die video het eers op 16 Desember 2025 uitgekom – heel toepaslik, waarskynlik. Wyle Brixton Barnard se humoristiese blik op die absurditeite van kultuur en verbruikerskultuur met beelde uit die 1990s, asook ‘n paar uit ‘n klassieke Soviet-era film deur Dziga Vertov.
Van die album Terug in skubbe (2005, Rhythm Records). Oor hierdie video skryf Roof Bezuidenhout op Facebook:
“My great-grandfather was a mineworker and a terrorist. During the South African war (1899-1902), he blew up railway tracks. He was captured by the British imperial forces and sentenced to death. Because his name was so complicated – he was Andries Jacobus Burger Rossouw – the clerk who penned the execution order wrote down his initials in the incorrect order. Due to the error, he was sent into exile to Sri Lanka (then Ceylon) instead. He returned to South Africa and the gold mines of Johannesburg after the war. In the end, he died from silicosis at the age of thirty and was buried in the Braamfontein cemetery. “This is a new music video for an old song by the Brixton Moord and Roof Orkes, written by the late Brixton Barnard. It has an epic guitar solo at the end by Kapelaan Pat Plank, also known as Gerhard Barnard, the band’s guitarist and a sculptor in his other life. He is also Brixton’s older brother. “I dedicate this song to all those of us who don’t fit into preconceived notions of what we should be doing and who we should be. The video contains images of other people who were considered to be terrorists by their own people – including Beyers Naudé, Breyten Breytenbach, and Bram Fischer. “We performed a version of this song earlier this year at the Breytenbach Centre in Wellington, Breyten Breytenbach’s parents’ old boarding house that now serves as an art and community centre.”
Van die album “Slaaptyd in die suburbs” (2014). Woorde en melodie deur Brixton Barnard en dis ook hy aan die woord. Die video is gemaak met vintage video footage van die ontploffing van die Zeppelin, asook ‘n Amerikaanse opvoedkundige video oor hoe om tornado’s te hanteer.
Van die album Bazaar Punk (2022), die eerste track. Hier skep Brixton Barnard die atmosfeer vir die hele album – iemand wat terugkeer na die dorp waar hy groot geword het. Kapelaan Pat Plank se kitaarspel beklemtoon die atmosfeer. Dis ‘n Saterdagoggend en die eerste trein het pas aangekom.
Die musiekvideo is vervaardig om “Fortuinverteller” se twintigjarige bestaan te gedenk. Destyds het Erns Grundling daaroor geskryf: “Moenie my vra waarom nie, maar as ek ooit sou moes kies watter song ek sal wil speel by Afrikaans se begrafnis, sal dit ‘Fortuinverteller’ wees. Wanneer ons die moedertaal finaal in haar moer in bekommer het en sy ter helle neerdaal sonder enige beloftes van wederkomste en reïnkarnasies en ons dus sonder taal of tyding hurk, kniel en kruisbeen om die vars hopie grond … dan sal ek vir Andries Bezuidenhout wil opkommandeer om hierdie song as swanesang (swanesong?) te sing. O ja, Liela Groenewald se sang in die koorgedeelte is puik.” – uit Erns Grundling se resensie van “Terug in skubbe” vir LitNet.
Hierdie musiekvideo gebruik tonele uit klassieke films oor fortuinvertellers uit die eerste helfte van die vorige eeu. Onder andere die volgende: “Betty Boop in My Palm Read” (1932); “Bunco Squad” (1950); “Felix the Cat in Futuritzy” (1928); “The Crystal Ball” (1943); “The Leopard Man” (1943) en “Touch of Evil” (1958). Die tonele met Marlene Dietrich kom uit laasgenoemde film, waarin sy ‘n redelike onbelangrike rol vertolk. Ons weet nie hoe sy daaroor sou voel om in ‘n Brixton Moord en Roof Orkes video te verskyn nie, maar ons dink sy is die hoofrol. Okay, dis dalk te sterk gestel, maar sy’s moer cool as sy die rook so blaas.
“Einde van dae” kom van die album Slaaptyd in the suburbs, aanvanklik in 2014 vrygestel. Tien jaar later het die band die album van die rak af gehaal, afgestof en ‘n nuwe mix daarvan gemaak. Aan die woord is wyle Brixton Barmard – die video is aan hom opgedra.
Bazaar punk is die Brixton Moord & Roof Orkes se vierde album. Die album is geskryf, verwerk en opgeneem rondom agt tracks wat Drikus “Brixton” Barnard kort voor sy dood in 2015 opgeneem het as konsepte vir ‘n volgende album. Andries “Roof” Bezuidenhout sou daarna luister en antwoorde daarop komponeer. Die tracks was rofweg en vinnig opgeneem, met stem en nylonsnaarkitaar wat deur ‘n enkele mikrofoon opgeneem is, bloot as luisterkopie vir Andries. Dis nooit bedoel as finale opnames vir ‘n album nie. Weens die spontane aard van die opnames en ten spyte van die swak klankkwaliteit, is Drikus se vocals delivery droog, rou en eerlik.
Na Drikus aan breinkanker dood is het die tracks vir jare op Andries “Roof” Bezuidenhout en Gerhard Barnard (bekend as Kapelaan Pat Plank in die band en Drikus se ouer broer) se hard drives gelê. Nie een van hulle het die moed gehad om daarna terug te keer nie.
In Mei 2021 was daar nog ‘n skok. Die band se drummer Louis Graham is aan Covid-19 oorlede. Louis en Drikus se dood het die oorblywende lede van die band laat besef dat ‘n mens maar moet doen wat jy kan terwyl jy nog asemhaal: dat jy moet aanhou beweeg en geraas maak, om Jan Rabie buite konteks aan te haal.
Andries, Gerhard en Ockert “Moord” Greeff (een van die band se stigterslede), wat in Montreal, Kanada woon, het op WhatsApp begin praat oor die moontlikheid van ‘n volgende album. As ‘n eerste stap het Andries begin om Drikus se agt tracks te restoureer. ‘n Program genaamd SpectraLayers is gebruik om die stem van die kitaar te isoleer en die gesuis op die digitale tracks te verminder. Die tracks is heen-en-weer gestuur – tussen Alice (waar Andries woon), Pretoria (waar Gerhard woon) en Montreal (waar Ockert woon). Al drie het studio’s by die huis waar hulle klank kan opneem – in Andries se geval stem, baskitaar, akoestiese kitaar en keyboards; vir Gerhard elektriese en akoestiese kitaar; vir Ockert drums, wat hy met ‘n enkele stereo-mikrofoon in sy kelder en in sy Montrealse band se rehearsal-kamer opgeneem het.
Hulle het ook begin om antwoorde op Drikus se agt tracks te skryf, met iemand wat terugkeer na die dorp waar hy grootgeword het as tema. Hierdie sewe addisionele tracks het hulle ook heen-en-weer gestuur en verwerk. Andries het die album gemeng en voor die tracks gefinaliseer is, is dit aan Willem Möller vir kommentaar en advies gestuur. Willem het die meesters van die finale tracks by Sharp Street Studio in Glencairn behartig.
Die resultaat is ‘n nuwe Brixton Moord & Roof Orkes album met vyftien tracks – “Bazaar punk”.
Brixton Barnard: Stem Roof Bezuidenhout: Stem, akoestiese kitaar, baskitaar, keyboards/programmering, meng Moord Greeff: Drums Kapelaan Pat Plank: Elektriese en akoestiese kitaar Willem Möller: Advies en mastering
Brixton Barnard se stem is in 2014 in Mogale City (Krugersdorp) opgeneem, die res van die album tussen Junie en November 2021, in Alice, Pretoria en Montreal opgeneem. Op 28 Januarie 2022 vrygestel deur Dikeni Records.
Bazaar punk word opgedra aan Drikus Barnard en Louis Graham.
Roof Bezuidenhout verduidelik hoe Bazaar Punk ontstaan het
Hendrik Hancke se verslag oorBazaar punk in Rapport, 2 Januarie 2022.
Met ʼn Omo-advertensie op die stasie se brug Verwelkom my tuisdorp my terug Ek soek bekende gesigte op die perron Maar dis net laatnag se lywe, net oggend se son My Liena, my Liena
Hierdie strate van ons het ek lank terug geloop Hier en daar lê ʼn memory gesloop Daar is winkels wat moes sterf vir ʼn ander se droom By die bicycle shop word nou rokke gesoom My Liena, my Liena
“Vars vis” lieg ʼn plakkaat by die kafee Dié is mynhoop se wêreld, ons is ver van die see Ek settle vir Pecks se anchovies op toast My waitress bring koffie, she is a beautiful hostess Liena, my Liena
Haar lyf nog vol lente, dit kan by mens spook Sy vra of ek sal omgee om buite te rook Beëindig die verhouding met papiertjie en lint Gratuity in ruil vir een peppermint My Liena, my Liena
Stop vir ʼn haircut op die pavement Die barber vra: “Hoe gaan dit?” Ek sê: “Voor die wind, “Short back and sides en hou maar die top” He says: “No my brother, then you look like a mop” My Liena, my Liena
Knip-knip in pare, die skêr se lem Hy sê dat Orlando die sokker gaan wen Sy radio skree luidkeels, ek luister maar saam Tap selfs my voet al ken ek van skaam My Liena, my Liena
My Liena my Liena My Liena my Liena My Liena my Liena My Liena my Liena My Liena my Liena My Liena my Liena Jy sluimer nog seker, sesde dag het begin
Woorde en musiek: Brixton Barnard
[2] DUIWELSBROOD
Daar’s ‘n skeur in jou hart En jy spoeg na die son met geen rede Die onontbeerlike donker Die donker wat kom Kom ongenooid, stiptelik Noukeurig, in onwelkome groet Met intieme naakstudies van jou gees Jou gees en jou bloed Jou bloed
Hul arbitreer jou beginsels Jou nood en die taal uit jou mond Daar is geen kwytskelding vir jou wanorde Op hierdie opper-allerheilige Heiligste grond
Daar is samerot in die kelders En elders in ons soewereine staat Trap der jeugd Nederduits-Gereformeerd Literatuur vir die lumpenproletariaat Ontbind tot in eenvoud, slot en einde van eie wil Hoereer na vreemde gode en vryheid As ons kon As ons sou kon As ons sou wou As ons sou wou
Staan rotsvas in jou kruistog Na die ongerepte vrou En onstuitbaar in jou peiling Deur die storm koers te hou Na die blou-oog debutante Met die kuislike dekreet In die passievolle arms Van die blonde kategeet
Staan kop-uit bo die skares Hou jou liggie helder skyn Jou skippie op die water Vaar voort totdat jy rustig In bewustelose, onvoldane Tranerige nietigheid verdwyn
So kom kniel hier langs my, dienskneg Ons toegewyde slaaf Aan die dinge wat jou kortkom Kan ons nog ‘n bietjie skaaf En slyp aan jou fasette Ons rowwe edelsteen Maak toe jou oë, buig jou hoof Kom dan nou Ontvang gods rykste seën
Woorde en musiek: Kapelaan Pat Plank
[3] WHOLESALE EMPORIUM
Ahmed en son se wholesale emporium So baie te sien hier, waar sal mens begin Daar is altyd ʼn man met ʼn baard en gewaad in die hoek Daar is altyd ʼn vrou met daai mysterious look
Wette bedek haar van onder tot bo Maar sy lewe defiant, mens sien dit in haar oë Sy los als aan verbeelding, verbeelding dié ken ek ook Ek sien al die aand en ek sien al die dans, die wierook
Ek sien hoe die ritme sagkens kom rus op haar heup Ek sien al haar hande, ek voel al haar greep Kamers vol glinster, ʼn doolhof gemaak van satyn Jy kan jouself verloor, jy kan spoorloos verdwyn
Ahmed en son se wholesale emporium Dis hoogtyd dat ek uit al hierdie ou klere klim Lankal geweet dit is tyd vir ʼn grênd overhaul Die klap van my vingers moet al die shots call
Soek ʼn suit soos Belushi, ja pikswart nes my bril Soek ʼn hemp met ʼn collar, maar sonder die frills Chelsea se stewels, ʼn hoed om dit als af te rond Gooi dit als op die toonbank en nou praat ons pond
“The shoes are six hundred, but I’ll give it to you for four Twenty percent on the suit now, my friend, you know that’s a score I’ll throw in some cufflinks, a pair of matching socks too It’s all handmade material and it’s double knitted too.” Ahmed en son se wholesale emporium
Woorde en musiek: Brixton Barnard
[4] MET MAIN REEF ROAD LANGS
Hy was te lank ingeperk deur berge en die see Verfynde fynbos en ontwerpersrooibostee Nou ry hy noord deur die Karoo en die Vrystaat Na waar hoogoond en skoorsteen oor die Hoëveld waak
Deur Beaufort-Wes en Bloemfontein By Brandfort, Welkom en Vanderbijl verby By Grassmere betaal hy om deur te kom By Soweto voel hy die eerste oggendson
Wat het hy verloor as hy met Main Reef Road langs ry? Iets wat hy moet vind het skynbaar padlangs verdwyn Waarna soek hy van Springs tot Randfontein?
Nou’s hy weer terug op die Witwatersrand Met die bekende reuk van winter en veldbrand Oos-Rand Wes-Rand, hier’s hy nou Waar kragdrade steeds oor mynhope waghou
Almal hier kom mos eintlik van elders Kelners, bankiers, hustlers en delwers Sy anker ‘n steen in Braamfontein begraafplaas Die M1 se draaie en die torings as sy kompas
Wat het hy verloor as hy met Main Reef Road langs ry? Iets wat hy moet vind het skynbaar padlangs verdwyn Waarna soek hy van Springs tot Randfontein?
Op Robert Broom delf hy in die verlede Kom op Beyers Naudé weer aan in die hede Dink aan jou saam met die flikkerlig Se ritme en die ligte van Mandela-brug
Wat het hy verloor as hy met Main Reef Road langs ry? Iets wat hy moet vind het skynbaar padlangs verdwyn Waarna soek hy van Springs tot Randfontein?
Woorde en musiek: Roof Bezuidenhout
[5] VOETSTOOTS
Vir ʼn goeie plek moet jy vroeg op wees Jy moet als uithaal voor die son, ou bees Bring jou yskas, bring jou TV Bring jou toolbox, jou hele CV Daai exercise bike het jy nog nooit getrap Jou vrou het nog nooit met daai masjien gelap
Bring die hosepipe uit die tuin Paving het die gras laat kwyn Bring die harke, bring die graaf Boormasjien, elektriese skaaf Verkoop dit als voetstoots
Ek het een honnerd, ek het twee honnerd, ek het drie honnerd vier Ek het vyf honnerd, ses honnerd, sewe honnerd, ag Ek het nege honnerd, tien honnerd, elf honnerd, twaalf Ek het dertien honnerd, veertien honnerd, vyftien honnerd, ses Verkoop dit als voetstoots Verkoop dit als voetstoots
Jy moet altyd weet teen wie jy bie Jy moet die kopers ken, die wie is wie Ou Jaap like om ‘n prys op te jaag Jy moet hom double bluff, voor wen kom waag Luister my vriend, as jy geld wil spaar Sit jou emosies hier en jou beursie daar
Want hul’s uitgeslape, wolf tussen skape Verkoop graag beeskak as rape Jy moet dit als inneem, jy moet dit raak kan sien Jy moet mooi oplet, jy moet jou brood verdien
Ek het een honnerd, ek het twee honnerd, ek het drie honnerd, vier Ek het vyf honnerd, ses honnerd, sewe honnerd, ag Ek het nege honnerd, tien honnerd, elf honnerd, twaalf Ek het dertien honnerd, veertien honnerd, vyftien honnerd, ses Verkoop dit als voetstoots Verkoop dit als voetstoots
Boeke blaaie, geel gelees Een ou rusbank, goed gekneus Filosowe in ‘n boks Die Rolling Stones se Hot Rocks Radio wat nog plaat kan speel Kon dit alles tape en met jou deel
Yo-yo, hoola-hoop Ice cream se primitiewe scoop Monopoly en Twister ook Kyk hoe gister nog by ons spook Verkoop dit als voetstoots Verkoop als voetstoots
Woorde en musiek: Brixton Barnard
[6] STOFDORP
By die eerste stopstraat In die klein stowwerige dorpie Waar hy sonder geskal van trompet In die wêreld ingeglip het Sien hy die ou vrou en die ou man In die klein, skewe bakkie raak Oorkant hom Aan die ander kant van die stopstraat
Sy met ‘n glimlag van oorgee Na soveel jare van sukkel Hy met ‘n grynslag van swak sig Agter die stuur van die klein, skewe bakkie
By die tweede stopstraat In die klein, stowwerige dorpie Waar hy sonder geskal van trompet In die wêreld ingeglip het Sien hy in sy truspieël Die klein, skewe bakkie rukkerig vorentoe skraap Daar ver agter hom By die eerste stopstraat
Sy met ‘n glimlag van oorgee Na soveel jare van sukkel Hy met ‘n grynslag van swak sig Agter die stuur van die klein, skewe bakkie
By die laaste stopstraat In die klein, stowwerige dorpie Waar hy sonder geskal van trompet In die wêreld ingeglip het
Sien hy ‘n man oorkant die stopstraat In ‘n blink, nuwe, swart kar aankom En hy trek sy oë op skrefies En steek sy hand uit na die vrou langs hom
Sy met die glimlag van oorgee Na soveel jare van sukkel Hy met ‘n grynslag van swak sig Agter die stuur van die klein, skewe bakkie
Dis nou hy met ‘n grynslag ‘n grynslag van swak sig Agter die stuur van ‘n klein, skewe bakkie Dis nou hy met die grynslag, die grynslag van swak sig Agter die stuur van ‘n klein, skewe bakkie
Sy met die glimlag van oorgee Na soveel jare van sukkel en swig Hy met ‘n grynslag van swak sig Agter die stuur van die skewe bakkie ingewig
Woorde: Moord Greeff, musiek: Roof Bezuidenhout
[7] ROER
Henne wat kekkel om ʼn tafel kloek kloek Opgeblaasde plastiek om elke koek Party is meesters met vetkoek en mince Als gemaak met liefde, die kerk vat die wins
Ek sê roer die suiker en kaneel Die deeg staan styf in die plat pan Koop koffie, kerrie en ‘n rys Daar’s vars pastei vol wille vleis
Die Consol jar versmoor die vrug Om vir altyd saam met stroop te rus Ek wens ons was ook ingelê Gee nie om wat jou mamma daarvan sê
Wanneer laas was daar souskluitjies in jou kombuis Wanneer laas het jou oond gevoel hoe brood kan rys? Sit neer die Rooi Rose, lees Kook en Geniet Two minute noodles is pure verdriet
Hul staan by die vendusie, elke kerk kry hul beurt Behalwe die Boeddhiste, niemand wil daai kak eet Die NG, Hervormd, Pinkster, AGS Die Volle Evangelie, I forget the rest
Maar roer die eiers en die spek Die vetjies kan so lekker trek Die oliebol is mooi gevleg Die man se maag die middelweg
Sagte brood met harde kors Sousie op jou boerewors Klapperballe, moskonfyt Waatlemoen om aan te byt
Wanneer laas het ek vir jou resep gewys Wanneer laas het ons saam gebak in jou kombuis? Bring die potte panne, nou toe, laat ons kook Ek kry die kaste oop na ʼn moerse gespook
Wie presies maak deesdae ouma se beskuit? Ek weet sy is lankal landuit met ʼn moerse profyt Maar hier glo ons nog altyd in kwaliteit Hier vat ons nie shortcuts, oor niks is ons spyt
Ek sê roer die suiker en kaneel Die deeg staan styf in die plat pan Koop koffie, kerrie en ‘n rys Die Consol jar versmoor die vrug Om vir altyd saam met stroop te rus Ek wens ons was ook ingelê Gee nie om wat jou mamma daarvan sê
Wanneer laas was daar souskluitjies in jou kombuis Wanneer laas het jou oond gevoel hoe brood kan rys? Sit neer die Rooi Rose lees Kook en Geniet Two minute noodles is pure verdriet
Woorde en musiek: Brixton Barnard
[8] DIE GROOT SKA-BENGA
Sy lyk so fly-fraai, sy sê sy sal my leer Sy sal my alles wys en ek moet net probeer Sy sal my optel Vrydagmiddag net na werk Ek sê, nee mooi man ek sal reg staan op my merk Wine en dine en sixty nine dis fine Ek is die groot ska-benga
Sy’t sulke groot oë wat deur jou lyf kan kyk My kop is vol van prentjies hoe sy sonder klere lyk Geskape soos ‘n kruiwa, baie seker van haar saak Ek’s vasberade om ‘n diep indruk te maak Up for the challenge, ek’s daar Ek is die groot ska-benga
Ek’s die master van disaster, ek’s geharde hartedief Ek’s die meester van die peester, ek’s Le Coq Sportif So check my uit, maar staan net wyd en hou by as jy kan Ek ken die moves broer, ek werk hom met ‘n plan Smooth operator, see you later Ek’s die groot ska-benga
Sy doen ‘n sexy paaldans toe begin die ritueel Binne vier sekondes flat sit ek met leiband om die keel Sy sê daar is ‘n kodewoord, ek moet hom nie vergeet Ek sê dis lekker so, al is dit bietjie weird In for a penny or a pound Ek is die groot ska-benga
Sy gryp my aan my hare vas en fluister in my oor Ek dink dit was die wagwoord, maar ek kon nie lekker hoor Sy vra of ek van pyn hou en ek wys haar my tattoo Sy sê ag dit is niks nie, ek sê what you gonna do Ek’s getrein op pyn en cane Ek’s die groot ska-benga
Sy trek ‘n snaakse harnas aan en ek wil nog protesteer Maar sy gee ‘n paar tree terug, begin haar aanloop by die deur Ek knyp so hard as wat ek kan en vra nog hulp van bo Verhale van my lewe rondomtalie voor my oë Inwendige beserings, pyn en lyding Sy’s die groot ska-benga
Vir twee en veertig ure lank het sy my gal gewerk En met ‘n tweede asem Sondag toe sy terugkom van die kerk Sy vra toe ook so ewe of sy my taxi kan betaal Ek sê, nee, dis beter as die medics my kom haal En hou maar die gebeure tussen ons Ek was die groot ska-benga
Woorde en musiek: Kapelaan Pat Plank
[9] GETROU AAN DIE WIT BAKSTEENGEBOU
Op die hotel se stoep sal jy niemand hoor roep vir ʼn ronde Waar ‘n Fox terriër lank terug geslaap het lê nou net ‘n been Die stoele is leeg die tafels word nie meer gedek nie Daar is niemand verdiep in ‘n gesellige gesprek nie
In die voorportaal sukkel ‘n TV-verhaal met reception Daar’s iets fout met die kabel se male en female connection Hartseer kuns op die muur, but its hardly worth a mention Die klerk het nie werk nie, the hours they feel like detention
Sy lees maar boeke van Mills en boeke van Boons, sy is romanties Studeer deur Unisa en droom van ‘n visa na elders Sy’t ‘n chocolate en ‘n ruiker in ruil vir ‘n spyker reputasie Deesdae almal se vloerlap, ‘n groot grap vir monde wat fluister
Ek groet haar ordentlik, weet nie of sy my onthou nie There once was a time when I wished she was mine, maar dit is lank terug Op die kroeg sit ou Sarel waar ek hom sewe jaar terug gelos het Op die plek waar ons sorge met shooters by die dosyn gepos het
Hy sê, hoe gaan dit ou maat, daar is niks om te baat as mens kla nie Dis sy vroeë pension van die myn wat stadig verdwyn oor die counter In die huwelik getree, maar sy gat afgevee aan beloftes Ja net twee jaar gehou voor dit alles moes vou in ‘n streekshof
Nou sit hy maar hier, sy breakfast is bier en sy lunch ook Hy sê, almal is weg, ja, die dinge lyk sleg vir die hotel By die water, by die mall, sit hul plekke propvol op ‘n Saterdag Sarel bly maar getrou aan die wit baksteengebou, hoe dan anders?
Die kamers is vol, maar die spoke betaal nie hul rent nie Die einde wat wag is nie mooi soos ‘n Hollywood prent nie Die drive-in is dood, slush puppy is SPCA toe Hy sê, nou toe, laat ons loop, by die off-sales koop ons ‘n bottel
En die bome staan paraat, die denne se granaat lê die straat vol Hy sê hy’t charcoal en ‘n grid en ‘n flatty om te split, ons kan saam braai En op sy balkon lyk die middag nou net te helder
Woorde en musiek: Brixton Barnard
[10] LIENA MONDEGREEN SE FILOSOFIE
Ek is die skewe een Die skeel een Dis vir mooi so Dis vir my goed so
Wie wil nou altyd gelukkig wees Altyd perfek wees Altyd aan die pronk wees Spekvet van al die geluk wees?
Ek is krom en skeef En nou is ek op dreef Dis vir mooi so Dis vir my goed so
Wie wil nou altyd gelukkig wees Altyd perfek wees Altyd aan die pronk wees Spekvet van al die geluk wees?
Ek is die knoffelasem Die nat ruit wat wasem Dis vir mooi so Dis vir my goed so
Wie wil nou altyd gelukkig wees Altyd perfek wees Altyd aan die pronk wees Spekvet van al die geluk wees?
Ek is kwalik meer as spelfout ‘n Lied wat verkeerd gehoor word The moon that went behind the clouds The moon that wept behind the clouds The moon that’s wet behind the clouds
Wie wil nou altyd gelukkig wees Altyd perfek wees Altyd aan die pronk wees Spekvet van al die geluk wees?
Die verkeerde woord is waar ek skuil Want dit is waar die maan kan huil En dis mooi so Dit is vir my goed so
Wie wil nou altyd gelukkig wees Altyd perfek wees Altyd aan die pronk wees Spekvet van al die geluk wees?
Woorde: Moord Greeff, musiek: Roof Bezuidenhout
[11] DIE SESDE DAG SE TWEEDE BEWEGING
Mense pak op, die vendusie is klaar Die meeste trek maar laer by die Spar Tjoklits vir mammie, biltong vir pa Sweets vir die kinders wat die sakke help dra My Liena, my Liena
Steaks groot soos Texas, sakke vol ys Bier voor die branfien, mens moet jouself pace Armes wat maar buite rondstaan Die land en sy kontras sal ek nooit verstaan My Liena my Liena
Silent gebedjies om die lotto te wen Om net soos ʼn ryk man in chloor te kan swem Ek speel ook met nommers, leef met die hoop Om eendag vir jou ʼn groot huis te kan koop My Liena, my Liena
Terug op die pavement tussen all sorts Mense gesellig, kratte vol quarts Later vandag word die kuier ʼn lem Kots en verdriet en bloed wat saam swem My Liena, my Liena
Counterfeit nik-naks in sakke gepak Die spaza is besig, goed vlieg van die rak Ek vra vir draw, ja, ʼn sigaret los Kan nie glo wat ‘n pakkie jou deesdae kan kos My Liena, my Liena
Ja, party van ons gaan maar hoes-hoes hier uit Ander neem ʼn cous-cous en vegan besluit Gister is dood en môre is gesluit All that now matters is that we’ve got a date My Liena, my Liena
My Liena my Liena My Liena my Liena My Liena my Liena My Liena my Liena My Liena my Liena My Liena my Liena Mammon se sluimer bring Saterdag se rus
Woorde en musiek: Brixton Barnard
[12] DEURNAGTREIN KAAP TOE
Krugerstraat se perron, ek en Liena wat lag Vir passasiers en portiers wat op die deurnagtrein wag Tasse deur die venster van ons tweedeklas koepee Spoorlyn langs Kaap toe, Liena, net ons twee
Klerksdorp, Christiana, of Warrenton Iewers sonder bagasie het jy afgeklim
Hittegolwe vlaktes, aandwind koel af Die klap van wiel op spoor deur die Karoo in die nag Hierdie wa ‘n wieg, jy op die bank langs my Die ontbytghong lui, maar waar is jy
Kimberley, De Aar, of Hutchinson Iewers, sonder bagasie, het jy afgeklim
Ek kon sien jy wou iets sê, maar jy’t toe weggedraai Wat kan mens nou sê as jou woorde so wegwaai?
Laingsburg, Worcester, of Wellington Iewers, sonder bagasie, het jy afgeklim Laingsburg, Worcester, of Wellington Iewers, sonder bagasie, het jy afgeklim
Klerksdorp, Christiana, of Warrenton Kimberley, De Aar, of Hutchinson Laingsburg, Worcester, of Wellington Waar eindig ‘n spoorlyn en waar’s die begin?
Woorde en musiek: Roof Bezuidenhout
[13] PIERNEEF-BLOU
Hy bly nou in ‘n woonstel bo ‘n kafee Dis die meeste wat sy beursie vir ‘n landlord kan gee Die meubels wat hul hier gelos het kan hy maar hou Die blou bed word ‘n bank as jy dit vou
Eskom moet maar fokof, die geyser mag heeldag loop Hy lees in die koerant hoe die regering miljoene stroop Dit los hom ongemaklik, dit los hom omgekrap Hy wonder oor die toekoms en die pad wat die land stap
En die lig, die lig, die lig is Pierneef-blou Dis ‘n kleur waarvan hy nie regtig hou nie Afrika se son skyn net te blink Oor die karre in die straat, oor die ou dak se sink
Hy hou nie van die taxi’s, hy hou nie van die middelklas Hy haat die botterbul van sy eie spierwit ras Hy haat emigrasie, Brittanje, Australië ook Hy haat dit dat sy eks se borste nog by hom spook
Hy voel fokol vir oranje, hy voel fokol vir blanje blou Nkosi sikelel’ en Die Stem kan hul ook maar hou Hy hou nie van Mandoza, hy hou nie van Theuns Jordaan Hy hou nie van sy vakansies kleintyd in ‘n karavaan
En die lig, die lig, die lig is Pierneef-blou Dis ‘n kleur waarvan hy nie regtig hou nie Afrika se son skyn net te blink Oor die karre in die straat oor die ou dak se sink
Hy hou van donderstorms en die spore van ‘n trein Hy hou van mense wat e-tol ondermyn Hy hou van Hank Williams, the moon wept behind a cloud Bonnie Prince Billy, hy hou ook van Johnny Dowd
Dit was seker fotoboekies, dit was seker maar Ben Brand Dit was seker James Phillips en sy hoed se breë wand Dit was seker maar something in Sundays you feel alone Dis seker maar sy lot, ja, no direction home
Hy hou van die lente as die bytjies die blomme roep Hy sit op sy balkon al voel dit soos ‘n stoep Hogehak se skoene loop nou die strate vol Hy trim maar aan sy ferns en sy whiskey glas is vol
En die lig, die lig, die lig is Pierneef-blou Dis ‘n kleur waarvan hy nie regtig hou nie Afrika se son skyn net te blink Oor die karre in die straat, oor die ou dak se sink
Woorde en musiek: Brixton Barnard
[14] VAL
Ek’s jammer dat ek sommer so Met die deur in die huis val Dat ek nou weer aan jou dink Is seker net toeval
Dit val my op dat mense soos ons Beter met dans as met stap is Dit val my op dat mense soos ons Beter met sing as met praat is
Ek skryf mos op papier Jy skryf in jou kop Papier verslaan of verval En notaboeke raak op
Dit val my op dat mense soos ons Beter met dans as met stap is Dit val my op dat mense soos ons Beter met sing as met praat is
Twee brûe het jy verbrand Vir elke een wat ek wou bou Maar daai pad het nie brûe nie Net ‘n kruispad die pad van rock ‘n roll
Dit val my op dat mense soos ons Beter met dans as met stap is Dit val my op dat mense soos ons Beter met sing as met praat is
Lokval van woorde bouvallige klank Met snaar en pedaal weef ons al lank Iets wat soveel hegter is As enige familieverband
Dit val my op dat mense soos ons Beter met dans as met stap is Dit val my op dat mense soos ons Beter met sing as met praat is
Met voete wat soos ons s’n dans Struikel mens neer En as jy eers begin val het Is daar niks wat jou kan keer
Dit val my op dat mense soos ons Beter met dans as met stap is Dit val my op dat mense soos ons Beter met sing as met praat is
Soms noem ons onsself digters Maar meestal val ons vas in woorde en taal Mens vind dit moeilik om woorde te vind As jy konstant so vryval
Dit val my op dat mense soos ons Beter met dans as met stap is Dit val my op dat mense soos ons Beter met sing as met praat is
Maar toe val jy weg en eensklaps en lig Met ‘n halwe groet en ‘n vraag oor jou gesig Struikel jy steeds aan die ander kant? Sê groete vir ou Louis en vir Paul van der Zandt
Woorde en musiek: Roof Bezuidenhout
[15] RYM
Hierdie dorp is met heimwee omhein Vrot mielies in die silo’s En tering in die myn Die duiwel het Jesus Se plek gevat in die wyn Na die houe by die troue Moes polisie die saal ontruim Hierdie dorp is met heimwee omhein
Ek was ‘n skugter digter In ‘n literêre woestyn Geworstel met wiskunde Maar pappa, kon ek rym Maar is jy effe anders Word jou pogings daagliks ondermyn Spoeg hul graag na jou kant Word jy verneder en verklein Hierdie dorp is met heimwee omhein Hierdie dorp is met heimwee omhein
As die donker dag gepleit het En die son nog moes besluit het of sy wou skyn Was my oë al lankal wawyd Met woorde uit die taal uit in my brein Voor die wasem nog geruit het Of die ketel mooi gefluit het soos ‘n trein Voor ons koffie en beskuit het Marmelade toast gebyt het was dit plein Hierdie dorp is met heimwee omhein Hierdie dorp is met heimwee omhein
Toe ons tafel en gebed het En ek skelm gesigaret het, kom daar ‘n sein Dit was Monitor se nuus ‘n Gesin het in ‘n sinkgat verdwyn Ons het konstabel Elias Wat eerste op die toneel was op die lyn Vir ‘n misdaad soos die Is hy en sy span net nooit getrein En die dorp is met heimwee omhein Hierdie dorp is met heimwee omhein Hierdie dorp is met heimwee omhein Hierdie dorp is met heimwee omhein
Bravade, tou en flitslig Maar die soektog en sy geesdrif het gou gekwyn Die gat was net te wyd Diep en donker, soos ‘n drein Hierdie dorp is met heimwee omhein Die honde sing die koortjie Ek help maar met die refrein Die kafee het nie John Rolfe Nou rook ek maar Rembrandt van Rijn Ek kon iewers in die song Nog ‘n sin gebruik wat eindig met die woord “pyn”
Karien du Plessis, Roof Bezuidenhout se skoonsuster, het in 2007 saam met die band in Roof se diesel Toyota Condor Mosambiek toe gery. Die band moes soontoe ry om by die Strab rock festival op te tree. Karien lewer met ‘n skerp sin vir ironie verslag oor die trip – in pynlike detail, wat die band eintlik in ‘n baie slegte lig stel. Hulle het verdwaal en was bitter amper laat vir die set wat hulle moes speel. Dis onder protes dat die stuk hier geplaas word, maar as die band se bestuur het ons ook ‘n sê. Of hoe? Lees die hele stuk, want dis regtig snaaks. Die meisie wat Ockert in die bar ontmoet het, is waarskynlik Liz, die Kanadees met wie hy uiteindelik getrou het.