Terug in skubbe

Terug in skubbe is die Brixton Moord & Roof Orkes se tweede CD, wat in 2005 by Rhythm Records verskyn het. Die ballade “Fortuinverteller” is op RSG geplaylist en “Spoed” is in die TV-reeks Orion gebruik. Mense het al verkeerskaartjies gekry terwyl hulle na “Spoed” luister en “Paul van der Zandt” is ʼn immergroen crowd favourite. In 2021 is die album as remastered weergawe vir streaming uitgereik, met twee nuwe akoestiese weergawes van “Vis” en “Dagboek van ‘n swerwer” as bonus tracks.

Luister op Spotify, Apple Music, Tidal, YouTube, ens.

Uittreksels uit resensies:

“Wie wil nou ‘n mens wees?” vra Moord Greeff in “Vis”, die eerste lied op die Brixton Moord & Roof Orkes se jongste album, Terug in Skubbe. Daar sal sekerlik stemme opgaan van skepsels wat mens wíl wees juis omdat dit vir óns ore is dat die musiek van hierdie album bedoel is. Dis net ménse wat sal verstaan waaroor die seer en die soet in die lirieke gaan. Visse, honde en voëls het voorregte, maar musiekwaardering is nie een daarvan nie. Hierdie album laat ‘n mens opnuut wonder oor rockers se intense kennis van die lewe… Greeff ruk lirieke soos dié in “Vis” uit en verwoord die universele wens om aan die daaglikse sleur van menswees te ontsnap. Roof Bezuidenhout maak dit in “Spoed” duidelik waarom almal altyd jaag. Die duiwel haal jou in as jy stil raak… Brixton Barnard is klaarblyklik ontstig oor alledaagse dinge, in ligter trant ook oor die rookverbod in winkelsentrums. Dan lewer hy snydende sosiale kommentaar met “Trane van ‘n Terroris” en vlek die gedagtes van ‘n “Stil Ou” met depressie en moordgedagtes oop. Hy is ook die skepper van die tragiesmooi geskiedenis van “Paul van der Zandt”… In die geheel het hierdie (die groep se tweede) album se musiek meer verskeidenheid as die eerste, wat hoofsaaklik folk-rock bevat… Hul aanslag wys kennis en begrip van poësie en kombineer dit op unieke wyse met die musiekgenre wat hulle gekies het.
– Mariana Malan, Die Burger, 11 Maart 2005.

Terug in skubbe is ‘n tema wat gaan oor omgekeerde evolusie. Soos die meeste songs op die album gaan dit ook oor persoonlike verval en agteruitgang, terwyl die tunes terselfdertyd die mooi daarin probeer raaksien. Gekompliseerde songs wat smag na die ongekompliseerde. Dis min of meer die uitgangspunt. Wanneer jy na dié band se goed luister, gaan dit nie anders kan as om te dink aan ‘n besonderse eiesoortigheid nie. Dit is ouens wat weet hoe om te jol, maar ook weet wat hulle uit hul musiek wil hê. Sover soos true school gaan, is jy hierso op die regte pad.
– Angola Badprop, Beeld, 18 April 2005.

To bring out a great first album is wonderful but to sustain that growth and creativity and come up with an even better second album (albeit more than two years later) is impressive… With all the social commentary and insights of their excellent first album Spergebied, the new album is much tighter, with a harder edge, in music as well as the lyrics. The brilliant imagery, which is at times cutting, humorous or cynical but never bland, explores the human psyche, especially the darker side… While the powerful poetry of Brixton Moord & Roof Orkes’ lyrics is probably their best feature, it is the beautiful tunes and arrangements with great vocals that complete the whole package to make this very fine album.
– Etienne Creux, Pretoria News, 20 April 2005

Die verskillende stemme is wat die CD laat werk. Nie noodwendig sangstemme nie (maar dié is daar ook). Eerder stemme wat iets te sê of te vertel het, iets wat nog nie tevore gesê of vertel is nie. Terug in skubbe is ‘n lieflike CD. Die grootste gros in hardekoejawel-rock. “Vis”, “Spoed”, “Sussie se sweep” en “Terapie” staan uit. Maar daar is ook dié wat die vrug van folk en country pluk. Bowenal soek ek die Afrikaanse tunes wat vanjaar by songs soos “Lisa Forward” en “Trane van ‘n terroris” kan kers vashou. Terug in skubbe is ‘n juweel.
– Pieter Redelinghuis, Insig, Mei 2005.

Die manne van die Jo’burg Afrikaanse underground het weer gedeliver en ‘n CD uitgebring waarvoor heelwat ander moet terugstaan. Terug in skubbe is ‘n tema van omgekeerde evolusie, maar dui eintlik op ‘n hunkering na eenvoudigheid in ‘n goor samelewing… Ander Afrikaanse bands gaan beslis ‘n paar tips in songwriting kan vang.
– Angola Badprop, Beeld, 2 Mei 2005.

Brixton Moord en Roof se musiek dra ou, afgeleefde Cats; groet jou met ‘n ghrieserige hand en ruik effens na sweet en ou whiskey. Dis liedjies oor middelklas- en minder-as-middelklasmense in middelklas- of minder-as  middelklasbuurte en die middelklas- of minder-a smiddelklasdinge wat hulle doen. Die liedjie waaruit die CD-titel kom, Vis, verwys na ‘n gedig van D.J. Opperman waarin dit gaan oor die vrees om die evolusieleer mis te trap en ‘n paar trappe te gly. In Vis gaan dit egter juis oor iemand wat moeg is daarvoor om ‘n siel te hê, wat vra “wie wil nou ‘n mens wees?”. Daar’s vrek mooi liedjies soos Fortuinverteller en Salome se lot op hierdie album, maar dis veral op gatskop-liedjies soos Trane van ‘n terroris en Spoed (my persoonlike gunsteling) dat Brixton Moord en Roof behoorlik wys wat in hom steek… Wees gewaarsku, die lirieke is nie vir sensitiewe luisteraars bedoel nie. Daar’s rowwe verwysings na rowwe meisies (soos “Sussie van Sannieshof” wat nie donkies aanjaag met haar sweep nie) en rowwe ouens (soos die ou wat al twaalfuur bedags in die kroeg met sy “sielkundige” sit en gesels – “sy naam is Jack en sy van is Daniels”) wat rowwe dinge doen (soos om bouncers met bakstene by te kom)… Kry dit as jy nie bang is vir musiek wat ‘n effense ghriessmaak in jou mond laat nie…
– Jaco Jacobs, Volksblad, 9 Mei 2005

Brixton Moord & Roof Orkes haat dit as mens hulle die Afrikaanse rockgroep met ‘n gewete noem… Maar dis waar. Terug in skubbe is hul beste album tot dusver, hoofsaaklik vanweë die baie afwisseling wat produksie en musiek betref… BMRO rock hier harder as ooit tevore. Maar onthou ook om te luister wat hulle sê.
– Dirk Jordaan, Beeld, 11 Mei 2005.

BMRO extend their survey of South Africa’s psycho-geography with Terug In Skubbe. With their driving garage blues rock blow-outs (“Vis”), pastoral luisterliedjie pit stops and gothic rock overhauls of Koos Doep ballads (“Dagboek van ‘n Swerwer”), the cult Afrikaans rock outsiders percolate a potent post-Voëlvry brew.
– Miles Keylock, CD Wherehouse, Mei 2005

TERUG IN SKUBBE – LIRIEKE

[1] VIS

Sit my terug in skubbe
Ek wil ‘n vis wees
Laat my afstand doen van my gees
O a o a-maak met my lippe

Jou evolusie is nie welkom nie
Ontydig, ongemaklik
Verwaand en bowenal snotty, ambisieus
Wie wil nou ‘n mens wees

Sit my weer in pels
Ek wil blaf soos ‘n hond
Opgewonde raak oor my eie stront
Wie wil nou met vrinne gesels

Jou evolusie is nie welkom nie
Ontydig, ongemaklik
Verwaand en bowenal snotty, ambisieus
Wie wil nou ‘n mens wees

Gee my terug my vere
Ek wil ‘n voël wees
Pik pik pik aan my eie sere
Vat nou dadelik terug my gees

Ek wil waggel
Ek wil kruip
Miskien selfs seil
Ek wil net nie loop, heeldag loop in hierdie ry
Loop in hierdie ry

Sit my terug in terug in skubbe
O a o a o a

Woorde: Moord Greeff; Musiek: Pat Plank

[2] FORTUINVERTELLER

Jy nooi my na binne, na jou donker karavaan
Met die reuke van wierook trek jy my aan
Kan die rinkel van juwele my vir ‘n oomblik laat rus
Die swaai van jou heupe my stadig, stadig sus

Jy sê jy sien die toekoms, jy kan dit duidelik lees
Kaarte en kristalle sê wat die uitkoms kan wees
Ek gee jou my palm, jy lees my lewenslyn
Maar weet jy, my verlede het lank reeds verdwyn
Hierdie woorde en sinne het ek iewers geërf
Maar die taal wat ek praat het lank terug gesterf
Ek het eendag vergeet waar kom ek vandaan
Waar my huis is, my land is, of die klank van my naam

Ek sit my voete op jou kussing met my kop agteroor
Soek ‘n antwoord in die donker spirale van jou oë
Jou vingers streel my saggies, steel die spanning uit my lyf
Jou parfuum en droë blare laat my tydelik wegdryf

Jy sê jy sien die toekoms, jy kan dit duidelik lees
Kaarte en kristalle sê wat die uitkoms kan wees
Ek gee jou my palm, jy lees my lewenslyn
Maar weet jy, my verlede het lank reeds verdwyn
Hierdie woorde en sinne het ek iewers geërf
Maar die taal wat ek praat het lank terug gesterf
Ek het eendag vergeet waar kom ek vandaan
Waar my huis is, my land is, of die klank van my naam

Die son kom op, dis môre, alles is verklaar
My lewenslyn gebroke, my kaarte deurmekaar
Ek vat die pad soos altyd, soek kos en ‘n dop
Vir ‘n oomblik nog bedwelm teen die duiwels in my kop

Jy sê jy sien die toekoms, jy kan dit duidelik lees
Kaarte en kristalle sê wat die uitkoms kan wees
Ek gee jou my palm, jy lees my lewenslyn
Maar weet jy, my verlede het lank reeds verdwyn
Hierdie woorde en sinne het ek iewers geërf
Maar die taal wat ek praat het lank terug gesterf
Ek het eendag vergeet waar kom ek vandaan
Waar my huis is, my land is, of die klank van my naam

Woorde & musiek: Roof Bezuidenhout

[3] SPOED

(met verskoning aan Jan Rabie)

Hou aan beweeg, hou aan geraas maak
Verkieslik baie vinnig voor ek aan die slaap raak
Links ‘n geel streep, regs ‘n spikkelslang
Rubber teen die teer se lofgesang
Want ‘n duiwel jaag van agter en ‘n dop van voor
Ek kan nie bekostig om nou tyd te verloor

Pasop vir die wind, pasop vir die sand
Pasop vir die son wat my oë brand
Pasop vir potholes en diere in die pad
Maar ek hou deur die draaie as ek verby moet vat

Hou verby al die dorpies uit die vorige eeu
Elkeen met sy robot en sy dorpsmuseum
Ek stop net vir tolhek of vir padblokkade
Ultra City pitstop vir die petrolskade
Red Bull, burger en Bio Plus
Hou my wakker op die bike deur die Katbergpas

Pasop vir die wind, pasop vir die sand
Pasop vir die son wat my oë brand
Pasop vir potholes en diere in die pad
Maar ek lê deur die draaie as ek verby moet vat

Fok die Kalahari, fok die Karoo
Dis die teer wat my meer interesseer
Vergeet die koue Hoëveld of die Kaap se kitch
Ek’s gelukkig as ek ‘n ek ‘n lift kan hitch
Maar verkieslik wil ek self die yster bestuur
Two-twenty k’s gee my meer plesier

Pasop vir die wind, pasop vir die sand
Pasop vir die son wat my oë brand
Pasop vir potholes en diere in die pad
Maar ek lê deur die draaie as ek verby moet vat

Wat is die lewe, wat is die liefde
Alles kom tot niks as jy stil gaan staan
Met jou vuis om die throttle en jou voet op die rat
Kan die langpad jou vat waar hy jou heen moet vat
En as jy stilhou kom die duiwel jou haal
Vir jou huisie in die suburbs met ‘n halsband aan

Pasop vir die wind, pasop vir die sand
Pasop vir die son wat jou oë brand
Pasop vir speed bumps en kinders in die pad
Maar ek lê deur die draaie as jy verby moet vat

Woorde & musiek: Roof Bezuidenhout

[4] PAUL VAN DER ZANDT

Paul van der Zandt, suiker het deur jou gebrand
Jy kon net nie stil sit, die boy wat se gat jeuk
Was orals in Johannesburg en omliggende areas berug
Jy het mense ontstig
Hulle het geweet dat jou kop raas, kon nie wag dat jy uitpass
Of iewers anders op daai motorbike wou gaan roam
Doors, Alcatraz, Thunderdome
Jy was bourcers se slaansak, hulle’t gekom met ‘n snotklap
Tot jy een aand met ‘n baksteen opstaan, hy retireer
So het die dinge gebeur

Op daai eindelose Vrydae, op daai eindelose Vrydae
Toe ons almal gemaak het of die son nooit weer sou skyn
Oor die ou grys geboue, in jonkwees se kloue
Met niks om te doen but onsself te versoen
Met die feit dat ons net hier rondkruip
Punks en headbangers, gothic sonskerm
Luther Lugosi was eintlik Albertus Jan Theron
Ons was almal alright

Le Club, happy hour, Donderdae duislig
Vrydae het white trash vir hul sondes by die werk loop betaal
Al die stories herhaal
Die boere maak skoonskip, het net in tyd my trip
My bong in my long my dot op die tong ingesluk
Dagbreek toe druk

Rudi se wit Ford, somer se lang quarts
Tony Iommi nie Juffrou Ciccone, my vriend
Ons het almal gedroom
Geslaan aan kitare, grunge en lang hare
Die pyn van Cobain, die Cramps se drug train
Pay your dues, nog ‘n amp wat uitfuse
Nog ‘n band met ‘n drommer wat verlief raak op ‘n nommer
En sommer sy stokkies ophang vir die babakakblues
Die babbakakblues

Paul van der Zandt, ek hoor maar net nie eers koerant
Van jou tragiese einde, in Marketstraat, eintlik
Het ek jou ‘n week voor die tyd in Wings Beat Bar gesien
Jy’t gesê jy is all right, jy’t gesê jy is all right
Jy’t gesê dit gaan goed
En Kurt Cobain het gesweer hy’t nie ‘n geweer

Woorde & musiek: Brixton Barnard

[5] SUSSIE SE SWEEP

Sussie woon al lank naby Sannieshof
Waar die mielies al lank op die vlaktes staan
Sussie het maar lewe lank gedog
Dat sy eendag stad toe sou gaan

In die aand as die maan deur die venster loer
En manlief rus van die dag se boer
Droom Sussie onrustig, droom Sussie dringend
Droom Sussie van ‘n lewe wat sy elders sal vind

Sussie se sweet, Sussie se sweep
Susssie se stockings, Sussie wil weet
Of sy jou kan vasbind, of sy jou kan streep
Of jy hard sal skree as sy jou bloots ry

As manlief draai om verder te slaap
En die hoenders op die werf die tyd om gaap
Streel Sussie se vingers oor haar onderlyf
Moet Sussie saggies in haar kussing hyg

As die trekkers soos wrakke op die werf bly staan
En skaduwees donker langs die boorde gaan
Sal haar borste soos berge in die donker styg
Tot haar tepels styf teen die lakens vryf

Sussie se sweet, Sussie se sweep
Susssie se stockings, Sussie wil weet
Of sy jou kan vasbind, of sy jou kan streep
Of jy hard sal skree as sy jou bloots ry

Haar kappie sal sy afhaal net vir jou
Haar stewels sal sy opryg net vir jou
Haar tossels sal sy swaai net vir jou
Die ding in haar hand, die ding in haar hand
Hou sy reg om vir jou te brand

Sussie se sweet, Sussie se sweep
Susssie se stockings, Sussie wil weet
Of sy jou kan vasbind, of sy jou kan streep
Of jy hard sal skree as sy jou bloots ry

Woorde: Roof Bezuidenhout & Moord Greeff; musiek: Pat Plank

[6] SALOME SE LOT

Sy soek net ‘n plek vir haar en die laaitie
Ver van O’Hagan’s en die dorp se geraas
Sy was eers beïndruk met al die blink liggies
Maar die party is oor, net die hangover bly

Salome se lot: ketting en slot
Styf om die hart wat eens warm kon klop
Mense kon face, met groot oë na die toekoms kon kyk
Sy glimlag nog vriendelik vir al die vet beursies,

Skink nog ‘n bier, goudgeel, geen skuim
Maar iewers daar binne is ‘n droom wat wil doodgaan
‘n stroom wat wil oopgaan, ‘n siel wat wil rus
Salome se lot: ketting en slot
Styf om die hart wat eens warm kon klop
Mense kon face, met groot oë na die toekoms kon kyk

Saterdag en slaappilloos, laatnag radio moedeloos
Wag sy vir die oggendson, wag sy vir die son

Salome se lot: ketting en slot
Styf om die hart wat eens warm kon klop
Mense kon face, met groot oë na die toekoms kon kyk

Woorde: Brixton Barnard; musiek: Brixton Barnard & Pat Plank

[7] KLEURVOLLE TRADISIE

‘n Kleurvolle tradisie
Dans vir hul klandisie
Shopping centre word ‘n slagveld
En ek weet nou presies

Hoe Piet Retief gevoel het
Toe sewe duisend Zoeloes
Op die maat van Ipi Tombi
By sy deur aangekom het

Met hul krale en kaalvoete
Vat die Ultra City-roete
Koop ‘n poskaart en stuur groete
Vir die pisreën van Europa

Maar die’s nou ander tye
En ek swem hier teen getye
Ek word dalk net getuie
Vir my truth en my kommissie

Ek’s eintlik hier vir my toaster
En Morkels se belofte
Morkels se gelofte
Wat ek breek kan ek terugbring

Die toaster was my lighter
My heater in die winter
Nou lê hy hier in splinters
Voor jou deurmat

Maar terug na shopping centres

En kleurvolle tradisies
Vetmaak televisies
En die kakste wet nog
Rookverbode shopping centres
Boikot!

Woorde & musiek: Brixton Barnard

[8] GOUD IN MY BRANDY EN COKE

Sewe maal sewe, voetpaadjies vol skewe stene
‘n groot, barmhartige dors in my gene
‘n potsierlike pouveer in my oupa se hoed
Die mooiste tieroog is steeds soek

Op my tong is daar skimmel wat wag op die reën
Ek suig reeds van vroegoggend aan brandewyn se speen
Nog net ‘n paar teue van my brandewynglas
Dan is daar ‘n woud waar die skimmel was

Sewe borrels goud in my brandewyn en Coke
Voel my tong word stadig, grappig oud
Hoor jy die ysblokkies roekeloos giggel
Oor die swenkende gang van die druppel

In my mond is daar ‘n oer-oue oerwoud
Die put van my keel moet lei na riwwe van goud
Maar daar is ‘n spelonk diep in my bors
Wat reken op my barmhartige dors

Sewe wewenaars swerf deur die woud
Elke een op soek na die tieroog van goud
Maar hoor hulle tussen die takke die mineur
Waarop die spelonk in my bors resoneer

Sewe borrels goud in my brandewyn en Coke
Voel my tong word stadig, grappig oud
Hoor jy die ysblokkies roekeloos giggel
Oor die swenkende gang van die druppel

Dis my bors wat verlang na jou asem
Soos ‘n oergesteente wat wasem
Jou weerklank is klip en wolk
Geen plek daarvoor in my bors, die spelonk

Sewe borrels goud in my brandewyn en Coke
Voel my tong word stadig, grappig oud
Hoor jy die ysblokkies roekeloos giggel
Oor die swenkende gang van die druppel

Woorde: Moord Greeff; musiek: Roof Bezuidenhout

[9] LISA FORWARD

Lisa Forward, ek voel so awkward
In die southern comfort van my Morkelsstel
Lisa Forward, my song het drie chords
Ek drink ‘n lang quart en ek dink aan jou

Ek wens ek was ‘n rock star
So I can meet some porn stars
Ek wens ek was ‘n pimp
En nie ‘n bankklerk nie

Lisa Forward, wat ‘n drawback
Ek’s ‘n square cut, bierpens diaken in my kerk
Lisa Forward, ek hou die score board
‘n Huis, ‘n vrou, ‘n hond en internet

Ek wens ek was ‘n rock star
So I can meet some porn stars.
Ek wens ek was ‘n pimp
En nie ‘n bankklerk nie

Lisa Forward, ek surf al lank rond
Op die web, hard-up en wellustig vir jou
Lisa Forward, ek sit met die chordless
Ek bel die chatlines, maar dink net aan jou

Ek wens ek was ‘n rock star
So I can meet some porn stars
Ek wens ek was ‘n pimp
En nie ‘n bankklerk nie

Woorde: Brixton Barnard & Roof Bezuidenhout; musiek: Brixton Barnard

[10] STIL OU

Voorskrif vir jou depressie
Dokters wat omgee in sessies
Groepsterapie sit in ‘n sirkel
Maar jy weet hul praat in sirkels

En jy wil lostrek
Jy wil lostrek, trek

Koppe moer toe blaas
Verslagte sê dit gaan nou beter
Niks meer drank, gesonde eter
Hulle dink hulle’t jou gefigure
Maar jou vinger’s op die trigger

En jy wil lostrek
Jy wil lostrek, trek
Koppe moer toe blaas

Want die dinge hang te swaar op jou gemoed
Jy’t dit lank onderdruk, nou vang dit spoed
En die lemme hardloop op jou matras
Jy gaan ons almal nog verras

En jy wil lostrek
Jy wil lostrek, trek
Koppe moer toe blaas

Jy was ‘n stil ou

Woorde & musiek: Brixton Barnard

[11] DAGBOEK VAN ‘n SWERWER

My dae is getyloos
Behalwe vir die weer
En Woensdag is maar Maandag
Met net een letter meer

Die vreemdelinge lyk maar
Soos elkeen wat ek ken
En elke nuwe vreugde
Is dienskneg van die pen

Ek skryf van al my reise
Se aanvang, slot en sin
Breedvoerig, in die diepte
Maar eintlik skryf ek min

Woorde: Koos du Plessis; musiek: Karla du Plessis

[12] TERAPIE

Kyk hoe ry hulle mooi in ‘n ry
Tog so posh in hul karre verby
Dis Vrydag en die naweek het gekom om te bly
Vir net twee dae sodat die middelklas

In die tuin kan spit en hulle karre was
En op Sondag bid en ewe bedees
Vra dat die rentekoers stabiel sal wees
Dat hulle goeie nuus in die koerant mag lees

Maar ek sit al van twaalf-uur by die bar
Ek het gekom om my sielkundige raad te vra
Sy naam is Jack en sy van is Daniels
Terapie is intensief tot jou kop weer reg is

My sielkundige weet hoe om vrae te vra
Om soms te swyg en stiltes te verdra
As daar nou een ding is wat nie by ons pas
Is dit die psychobabble van die middelklas

Tog neem ek soms deel aan groepsterapie
Met ‘n luck shot ‘n bietjie slaapterapie
Die metodes is dalk effe onkonvensioneel
Die skokterapie raak soms een te veel

Maar ek sit al van twaalf-uur by die bar
Ek het gekom om my sielkundige raad te vra
Sy naam is Jack en sy van is Daniels
Terapie is intensief tot jou kop weer reg is

Ek draai my kar se boeg in die rigting van die huis
Geen kaart word benodig om die pad te wys
Uit blote gewoonte moet ek baie keer ry
Want sulke terapie is so goed vir my

Sit die tv aan en die videomasjien
Om saai smut te kyk wat ek lankal wou sien
My oë kyk weer reguit na die hoofpynpil
En die stemme in my kop het nou ophou gil

Maar ek sit al van twaalf-uur by die bar
Ek het gekom om my sielkundige raad te vra
Sy naam is Jack en sy van is Daniels
Terapie is intensief tot jou kop weer reg is

Sommige mense drink bier vir ontbyt
Om die hangover te nurse na die tyd
Ander neem vodka saam met lemoensap
Om bewende hande vas te vat

Ek ken ‘n dude wat sy spek in brandy braai
En het jy al mampoer oor jou pap getry
Persoonlik verkies ek iets minder ryk
My medisyne onbesoedel, veral met ontbyt

Maar ek sit al van twaalf-uur by die bar
Ek het gekom om my sielkundige raad te vra
Sy naam is Jack en sy van is Daniels
Terapie is intensief tot jou kop weer reg is

Jy sien, my midlife crisis kom toe veels te gou
En jaag my in die arms van ‘n ander vrou
Vir haar is dit toe altyd net ‘n fling
En hier’s ek op my eie, jy sien

Maar ek sit al van twaalf-uur by die bar
Ek het gekom om my sielkundige raad te vra
Sy naam is Jack en sy van is Daniels
Terapie is intensief tot jou kop weer reg is

Woorde & musiek: Roof Bezuidenhout

[13] TRANE VAN ‘n TERRORIS

Nou ja toe, weer stukkend, sien die wêreld van ‘n wolk daar bo
Ek’s die laaste van die valke wat waghou oor die Klein Karoo
Ek’s ‘n kinderkransdanser met lomp voete wat die beat verloor
‘n Stemgebreekte sanger geskop uit die Drakensbergse koor

Maar ek sing nie vir jou, my dier
Ek sing nie vir jou, my dier

Ek is kakiebos-ellende, ou Bockstraat-legende, het behoort
Aan die mielieraad, die vleisraad, die kerkraad en by my vakansieoord
Kon ek jaarliks met ‘n braaipak en ‘n slaaisak in my eie kak vergaan
In die aande my frustrasie op ‘n ou houtkitaar uitslaan

Maar ek sing nie vir jou, my dier
Ek sing nie vir jou, my dier

Warm stoom, water uit die bron
Doringboom, ek’s eensaam soos die son
Gaan stadig dood, sout krap aan my tong
Gaan stadig dood, sout krap aan my tong

Maar ek’s president, was ‘n cowboy-prent
Charles Jacobie heaven sent, meneer
Was Joel Stransky se famous skop
Vir eenmaal kon ons hul opfok, regeer

Was ‘n prinses in ‘n BMW
Het die drome van die AWB beheer
Kom stokstyf voor die TV sit
My Engelse onderwyseres begeer

Was ‘n baksteen in ‘n Duitse muur
‘n Boswell Wilkie Sirkus-tier, ‘n tier
Was die konstabel wat jou aangluur
Biko in sy laaste uur, sy uur

Was die trane van ‘n terroris
Die hangups van die Antichris en hier
Sit ek nou, arms gevou
Vals en flat sing en nou vol bier

Ek sing nie vir jou my dier

Woorde & musiek: Brixton Barnard

© Brixton Moord & Roof Orkes

CREDITS VAN DIE CD AF:

‘Terug in Skubbe’ is opgeneem by One F Studios, Mugu Studios en Die Pastorie in Johannesburg van Maart 2004 tot Februarie 2005.

Opname by One F Studios deur Paul Riekert

Opname by Mugu Studios deur Peter Auret, bygestaan deur Marius Oosthuizen

Opname by Die Pastorie deur Pat Plank

Gemeng en gemaster deur Paul Riekert, behalwe ‘Paul van der Zandt’ gemeng deur Peter Auret

Alle woorde, musiek, stemme en instrumente deur die Brixton Moord en Roof Orkes, behalwe ‘Dagboek van ‘n swerwer’, woorde deur Koos du Plessis, musiek deur Karla du Plessis; asook Peter Auret: bykomende perkussie op ‘Paul van der Zandt’; Joanne Jaques: agtergrondstem op ‘Kleurvolle tradisie’; Paul Riekert: orrels op ‘Goud in my brandy en coke’ en ‘Dagboek van ‘n swerwer’, agtergrondstem op ‘Trane van ‘n terroris’;

Dankie aan: Paul Riekert, Peter Auret, Marius Oosthuizen, Karla du Plessis, Mariska Geyer; the Church of England of St Albert in the Fields vir die gebruik van hulle katedraal se pyporrel; die Falliese Mannekoor; Piet Planter vir die gebruik van toerusting waarvoor hy hard in Londen gewerk het; Albert du Plessis, Liny Kruger en almal by Rhythm Records en Bowline; Arnold the Grey vir ondersteuning en die kitaar.