Slaaptyd in die suburbs

Slaaptyd in die suburbs is die Brixton Moord & Roof Orkes se derde album. Dis as ‘n beperkte oplaag van 100 bundels met lirieke en skilderye van Marguerite Visser aan die einde van 2014 vrygestel en as CD aan die begin van 2015. In 2021 is die album vir streaming vrygestel.

Luister op Apple, Spotify, YouTube, ens.

Uittreksel uit ‘n resensie:

“Brixton Moord & Roof Orkes het nou maar die manier om jou na die werklikheid terug te ruk, of tot wysheid en alternatiewe insigte te bring. Die album Slaaptyd in die Suburbs is geen uitsondering nie. Op hierdie album leer ken ons verskillende mense, elkeen met sy eie klein storie en groot verdriet. Elkeen ken iemand soos Vera, Lenie, ­Mariaan, Marius… Dit was omtrent ’n dekade gelede dat die orkes laas ’n album gemaak het. Hierdie album is dus meer as welkom, al konfronteer dit jou met dinge wat jy soms wil ignoreer. Neem nou maar ‘Klein­burgerlike Kreet’ wat jou opnuut laat kyk na hoe die woonbuurt lyk waar jy bly. Die elektriese heinings en diefwering skree vir jou net soos jy wil skree, al weet jy dit is verniet. En in ‘Die ballade van Vera Naudé’ identifiseer jy met haar versugting van ontburger te wees deur vrees en haat. Dan is daar die heerlike ironiese lied ‘Tankwa-Karoo’ van iemand wat stilte gesoek het, maar dan skielik besef dat dit ook nie is waarna hy gesmag het nie. Hier word weer bevestig dat Totius tog reg was toe hy gesê het die wêreld is ons woning nie. En jy kan met Amanda Strydom saamstem dat die enigste plek waar jy dalk sal rus vind die kamer in jou kop is. Geen album van hierdie orkes gaan jou die son laat sien sonder om bewus te wees van die wolk wat kan inskuif nie. Dit laat jou egter helder sien, en dink laat dit jou dink. Die lirieke is altyd so vasvat waar. ’n Mens kan jou verlustig in die digterlikheid terwyl ’n mes in ’n wond of twee draai. Wat ’n mens veral van hulle waardeer, is die manier waarop hul musiek jou onmiddellik gryp en jou aandag hou. Hier is geen geteem of tranerige wysies nie. Selfs die einde van dae, verlies, ’n tronksel en verlange wil jy met jubelende voete op maat van die musiek tegemoet dans.”
– Mariana Malan, Die Burger, 6 Mei 2015

Lees ook gerus Rolbees se resensie van die album op Watkykjy!

SLAAPTYD IN DIE SUBURBS – LIRIEKE

[1] KLEINBURGERLIKE KREET

Vlieswolke is skubbe teen die koue lug,
hier onder onkruid, ʼn voetgangerbrug.
Afgemete straatblokke, vierkantige grid,
verspreide gesinne wat voor aandete bid.

Refrein:
Elektriese heinings, diefwering, vrees:
stempels in jou pasboek om deel te wees
van kleinburgerlike dae, kleinburgerlike vrae,
stuipe aan die speen van jou kleinburgerlike ma.

Kerkklok weerklink teen die winkelsentrummuur,
klingel soos ʼn kasregister, op die uur.
Skoolklok, muurklok, motoralarms,
kliniese ritme meng met petrolwalms.

Refrein

Jy kan skree, jy kan skree,
jy kan skree, jy kan skree.
(Skree maar, dis tevergeefs.)

Spoorlyn se staal stipuleer jou status,
bodorp of onderdorp, wanneer jy laat is
vir skool of vir werk, al die sloer
onder die skubbe teen die lug daar doer.

Refrein

Woorde & musiek: Roof Bezuidenhout

Baskitaar en aanvullende stem: Brixton Barnard
Stem en akoestiese kitaar: Roof Bezuidenhout
Lead kitaar: Kapelaan Pat Plank
Drums: Moord Graham

[2] MARIAAN

Dis slaaptyd in die suburbs
en die gras weerkaats die maan.
Ons share drome op ’n see-saw
en droom soos kinders sou.

Mariaan, liefde is illusie,
Mariaan, splinternuwe televisie,
Mariaan, met die jare word die visie
maar half vaag, liefde is illusie.

Maar nou try ons maar nog eenkeer,
want naïef is oraait
en bly ons altyd sinies
dan bly ons altyd kwaad.

Mariaan, liefde is illusie,
Mariaan, vat terug jou televisie,
Mariaan, met die jare word die visie
maar half vaag, liefde is illusie.

En ek gaan deur jou kanale,
maar daar’s niks wat ek verstaan.
Nou draai ek aan jou aerial,
maar die spookbeeld bly daar staan.

Mariaan, Mariaan,
nou draai ek aan jou aerial,
maar die spookbeeld bly daar staan,
nou draai ek aan jou aerial, Mariaan.

Net ek, ʼn draagbaar en ʼn somber satelliet,
rêrig niks hier rond om te geniet,
Mariaan, liefde is illusie.

Woorde & musiek: Brixton Barnard

Stem en baskitaar: Brixton Barnard
Aanvullende stem en akoestiese kitaar: Roof Bezuidenhout
Lead kitaar: Kapelaan Pat Plank
Drums: Moord Graham

[3] MARIAAN SE LAASTE KUNSWERK

Posbus, poskode, ʼn woonsteladres,
sy’s op Skype en Facebook en al die res.
Sesuur se wekker, wring daai treadmill,
Schoenberg op die iPod om gedagtes te stil.
Dan stort, make up, panty en bra,
hangkasparade, watter swart om te dra…

Refrein:
Musiek is dood, woorde bederf,
die laaste skildery het gestol in sy verf.
Alles gemuf, niks nuuts onder die son,
wag maar vir die maan om op te kom.

Post-its, Tipex en Sellotape,
faks en ʼn scanner om na te kyk.
Emails kom in, emails gaan uit,
kloue op die keyboard, die hele tyd.
Telefoon neul, skakel hom deur,
soveel niks wat tussen nêrens gebeur.

Refrein

“I never expected it from this lady,
pligsgetrou, jy weet, dalk bietjie crazy.
She dabbled in art en soms weird boeke,
dalk meer gelees as wat vir haar goed is –
Bataille en Breytenbach, sulke dinge,
gehang na werk in kunstenaarskringe.”

Refrein

Datum gekalender, die 12de Desember,
die een dag wat hulle vir altyd sal remember.
Korte mette met haar Facebook profiel,
dan die besluit oor who else om te kill.
Video gevang vir die internet,
avant garde op kantoor voltrek die prent.

Refrein

Woorde & musiek: Roof Bezuidenhout

Aanvullende stem en baskitaar: Brixton Barnard
Stem en akoestiese kitaar: Roof Bezuidenhout
Lead kitaar: Kapelaan Pat Plank
Drums: Moord Graham

[4] C-MAXIMUS

Nog twee en vyftig trappe, dan is dit koebaai,
dis ek en nog ses ander wat vandag gaan swaai.
Die een gaan dan na Laudium, die ander Eersterust,
een na Mamelodi, elkeen in sy eie kis.
Een ding weet ek wel, gewis –
C-Maximus vir jou gaan ek nie mis.

Bel die Magistraat of die Kommissaris,
hulle sal laat weet as hul met klaar is.
Moet my nie vergeet as ek nie meer daar is.
Vrede kom nou na Onrus,
C-Maximus vir jou gaan ek nie mis.

Almal pleit onskuldig, maar ek weet ek hoort hier:
Ek het my buurman Piet Visagie na sy Heiland gestuur.
Jy’t jare lank gekrap en dit het rêrig nie gejeuk,
toe moer hy my met ʼn hose pipe, toe moer ek hom met ʼn pik.
Sy vrou’t geskree: “Is jy getik!”
Maar ek het rêrig nie vir sy voorkop gemik.

Bel die Magistraat of die Kommissaris,
hulle sal laat weet as hul met klaar is.
Moet my nie vergeet as ek nie meer daar is.
Pateties in my eie pis,
C-Maximus vir jou gaan ek nie mis.

Sit jou linkervoet na buite
en dan trippel jy op die trap,
span jou hande om die ketting
laat dit klieng-klang-klieng-klang klap.
Sit jou regtervoet na buite
en dan trippel jy op die trap,
span jou hande om die ketting
laat dit klieng-klang-klieng-klang klap.

Een ding weet ek wel gewis –
C-Maximus vir jou gaan ek nie mis.
Vrede kom nou na Onrus,
C-Maximus vir jou gaan ek nie mis.
Vrede kom nou na Onrus,
C-Maximus vir jou gaan ek nie mis.

Woorde: Brixton Barnard
Musiek: Kapelaan Pat Plank

Stem en baskitaar: Brixton Barnard
Akoestiese kitaar: Roof Bezuidenhout
Lead kitaar: Kapelaan Pat Plank
Drums: Moord Graham

[5] WAAR MARIUS VAN DER MERWE RUS

Koeverte, albums, leggers, ʼn boks –
op jou instruksies hier gelos.
Maak oop, pak uit, sif, sorteer,
ons wat deur jou skrapnel navigeer.

Hier’s jy twee of drie op die strand,
nog vas aan Violet of Anna se hand.
Skoolrapporte sê: Altyd daar gewees.
Ja, sure. In liggaam. Anders in gees.

Refrein:
Skerwe en flarde, wat bly oor
as jou borskas besluit om jou longe te versmoor,
foto’s, papiere, ʼn muntstuk vir die reis,
vir die gemantelde bootsman om rigting te wys?

Tweede rugbyspan hou balle vas,
melkbaarde, truie skoon gewas.
Jikwit tennisspan, jy heel voor –
die jaar toe jy jou bybel verloor.

Gradeplegtigheid, koshuispet,
Pro Patria-medalje, stewels, baret,
pelotonfoto in Khayelitsha of Langa,
boshoed, dear Johnny, skote uit Ondangwa.

Refrein

T-hemp met the doors of culture and learning
wat over the rainbow lig sou bring.
Vriende, óns, wat by Vic Falls lag,
oë wat op wha’ever by Voëlvry wag.

Jou testament wat in swart op wit bepaal
jy’t anyway vooruit vir die gat betaal.
Wat de fok moet ons beitel in graniet,
“Hier rust Marius van der Merwe niet”?

Dít alles toe ons jou kratte oopmaak
met instruksies om dit hier ter aarde te laat
onder brandwagsipresse buite Pretoria
in ʼn genommerde erf langs jou ma en pa.

Maatskaplike werker stuur uit Brisbane nuus
vir jou as het die wind die rivier gekies.

Woorde & musiek: Roof Bezuidenhout

Baskitaar: Brixton Barnard
Stem en akoestiese kitaar: Roof Bezuidenhout
Lead kitaar: Kapelaan Pat Plank
Drums: Louis Graham

[6] LENIE

Want jy’s vir haar gespaar, en jy’t nie verniet gebloei nie,
jy’s vir haar gespaar en jy moet haar nie verloor nie.
Sy’s jou linkerhand, jou regterhand, jou toekoms,
jy’s vir haar gespaar en jy moet haar nie verloor nie.

Refrein:
Maar ek vra Lenie, Lenie, Lenie, gaan ons saam oud raak?
Gaan ons die bitter, bitter, bitter lewe ʼn bietjie soeter maak?

Want jy’s vir haar gespaar, sy lag vir jou kak grappe,
jy’s vir haar gespaar, sy kies al jou Edgars dasse.
Jy’s vir haar gespaar, ag even Dominee sê so,
jy’s vir haar gespaar en jy moet haar nie verloor nie.

Refrein

Jy sluimer in, ek speel nog met gedagtes,
politiek praat kak, en volg meer niemand hier nie.
Daar’s twyfel in hierdie son van ons se strale,
daar’s twyfel in hierdie son van ons se strale.

Refrein

Die berg was mooi en jy’t gesê ons moet hier anker,
die berg was mooi, maar beauty maak nie maag vol.
Desember is oor, ek word gevonnis tot elf maande
in ʼn staalfabriek so ver van my familie.

Refrein

Nou sit ek hier met jou foto in die hostel.
Die kinders hoes, ek stuur so bietjie Borstol.
Ons laaste lam is uit seisoen gebore.
Lenie, Lenie, Lenie, Lenie – dis iets wat ek mee worstel.

Refrein

Woorde & musiek: Brixton Barnard

Stem en baskitaar: Brixton Barnard
Aanvullende stem en akoestiese kitaar: Roof Bezuidenhout
Lead kitaar: Kapelaan Pat Plank
Drums: Moord Graham

[7] WORD WAKKER MARIAAN

Duif teen ʼn venster, klap van ʼn deur,
maar Mariaan het reeds vertrek na ʼn ander kleur,
lig in haar hande, haar hande in die lug –
waarheen droom sy, wanneer kom sy terug?

Refrein:
Word wakker Mariaan, word wakker Mariaan,
daar’s niemand wat verstaan wat jy doen
om deur ʼn nagmerrie te slaap nie.

Mariaan jou naam op ʼn spieël gegraveer,
uile loer van nokke op jou kamer neer,
ligte uit jou laaie, water op die trap,
wonde wat soos honde in jou rigting hap.

Refrein

Ek kan die blitse agter jou ooglede nie sien nie,
beelde wat daar flits, movies wat daar screen nie,
Mariaan verdwaal in die holtes van haar kop,
Mariaan word plastiek in die lyf van pop.

Refrein

Woorde & musiek: Roof Bezuidenhout

Baskitaar: Brixton Barnard
Stem en akoestiese kitaar: Roof Bezuidenhout
Lead kitaar: Kapelaan Pat Plank
Drums: Moord Graham

[8] EINDE VAN DAE

Selle loop in serie, flitslig sukkel met die stroom,
die battery lek lelik, daar’s ʼn skeur reg oor die soom.
Kabels brand soos kobras, hulle spoeg ʼn vuur, ʼn vonk.
Die skoonheid van dít alles laat my halfpad dronk.

Refrein:
Ek sal jou lief hê, sal jou lief hê,
sal jou lief hê, sal jou lief hê,
sal jou lief hê tot die einde van dae.

Die radio vang net suis op en die TV sien net sneeu,
tot kyk ek nog aandagtig, onredelik vasgeboei.
Daar’s ʼn disko op die hoofweg, net ligte geen musiek,
hulle dra oranje baadjies, dis seker retro-chic.

Refrein

Woorde & musiek: Brixton Barnard

Stem en baskitaar: Brixton Barnard
Akoestiese kitaar: Roof Bezuidenhout
Lead kitaar: Kapelaan Pat Plank
Drums: Moord Graham

[9] DIE BALLADE VAN VERA NAUDÉ

Hermanus flip alweer van kanaal na kanaal
en mor oor die dag wat die oorlog ons inhaal.
Hermanus verdiep in die misdaadstatistiek,
moord en doodslag, Aids en varkgriep.

Refrein:
Hermanus, Hermanus, waar kom ons vandaan,
dis nie ons land nie, maar waarheen sal ons gaan?
Ek is moeg vir die bang wees, moeg vir die haat,
Hermanus, Hermanus, maak tog ʼn plan.

Sy’t vir jare beplan, haar geld gespaar,
vir die dag wat sy kon vlug, na ver hiervandaan,
van die yskas, die huishulp, Hermanus wat kla
oor potholes, korrupsie en oor Afrika.

Refrein

Die saak voor die landdros is vinnig op ʼn end,
die egpaar is geskei van bed en kontinent.
Die een het vertrek, die ander bly agter,
die toneel vervaag, die musiek speel al sagter.

Hermanus, Hermanus, waar kom ons vandaan,
dis nie ons land nie, maar waarheen sal ons gaan?
Ek is moeg vir die bang wees, moeg vir die haat…
Hermanus, wat soek jy nog in Afrika?

Nou sit sy in Melbourne in ʼn Chinese restaurant
en verlang na Hermanus, sy klagtes oor die land.
Hermanus, Hermanus, is jou alarm aan,
is die agterdeur gesluit, die slotte nagegaan?

Woorde & musiek: Roof Bezuidenhout

Koor en baskitaar: Brixton Barnard
Stem en akoestiese kitaar: Roof Bezuidenhout
Koor en lead kitaar: Kapelaan Pat Plank
Koor en drums: Moord Graham

[10] BLIKSEMSTRAAL

Want ek is bored soos ʼn bliksemstraal
wat diep in jou dorp verdwaal,
ek sê: “Hey!”

Ek’s ʼn light show vir hoop en vrede,
ʼn diskoteek vir donker stede.
Sê: “Hey!”

Wanneer kom jy huis toe, wanneer kom jy huis toe,
gaan ek jou ooit weer sien?
Het ek klaar my tyd gedien?

Ons was te hoog, te laag, te happy
en nou’s ons veels te sad,
nou’s ons veel te sad.

Bored soos ʼn bliksemstraal…

Want ek is bored soos ʼn bliksemstraal,
dis vir jou wat ek vanaand kom haal,
ek sê: “Hey!”

Ek het ʼn kop vol visioene
en drome wat nooit sterf,
ek word dronk terwyl jy TV kyk.

Wanneer kom jy huis toe, wanneer kom jy huis toe,
gaan ek jou ooit weer sien?
Het ek klaar my tyd gedien?

Bored soos ʼn bliksemstraal…

Woorde & musiek: Brixton Barnard

Stem en baskitaar: Brixton Barnard
Akoestiese kitaar: Roof Bezuidenhout
Lead kitaar: Kapelaan Pat Plank
Drums: Moord Graham

[11] TANKWA-KAROO

 Eerder dan ʼn movie as ʼn gemsbok daar doer,
 eerder dan TV as ʼn plaasstoepvloer,
 die gelate geroer van wilgertakke,
 of hittegolwe in die waai van die vlakte.

 Refrein:
Jy’t vir stilte gevra, sê die stilte.
Hoe dan nou as die stilte jou pla?
Hoe dan nou as die stilte jou so pla?

Eerder dan ʼn snelweg as ʼn dromerige grondpad,
eerder dan die suburbs as die woestyn se hart,
gee my lood in my longe, suur in die lug,
ek kies dit alles bo die keer van jou rug.

Refrein

Eerder dan ʼn mall as wolke oor die berg,
eerder dan die radio as die stilte wat sterf,
as die sonbesies, die krieke en die wind gaan rus
en ek jou so op hierdie vlakte mis.

Refrein

Woorde: Roof Bezuidenhout
Musiek: Roof Bezuidenhout en Kapelaan Pat Plank

Baskitaar: Brixton Barnard
Stem: Roof Bezuidenhout
Lead kitaar: Kapelaan Pat Plank
Drums: Moord Graham

[12] VELVET

Die branders is aan flarde soek berusting
in die bottel, nie die blou see.
Die lyf van jou kon mooi tyd hou,
maar al wat ek nou oor het, is ʼn wond, rou.

Die branders is aan flarde soek berusting
in die bottel, nie die blou see.
Die lyf van jou kon mooi tyd hou
maar al wat ek nou oor het, is ʼn wond, rou.

Was die warmste somer in die eensaamste dorp
hey, Dominique.
Ek het gedink ons was special,
maar ons was maar net statistiek.

Daar was geen engagement,
net ʼn stupid arrangement op ʼn pavement.
ʼn Rubber, ʼn basement,
 ʼn bold but blank statement in jou oë.

Was ʼn ver verlate vlakte
en die koue bloue hemel was vol bloed.
Die son sak deur besoedeling
en traffic bly ʼn begrafnisstoet.

Jy’s alomteenwoordig
jy is goed verteenwoordig in my day dreams.
Woorde word toe oorbodig
ek was so agterlosig, ek het vergeet.

En nou voel ek net soos Elvis
wat vir Priscilla laat weet:
“You were always on my mind,
ek voel blind, o die Here weet.”

Die laat nagte vind my
en die bottel verdrink my, Dominique.
Ons gister, jou môre,
jou blou oë en jou aura Dominique.

Nou voel ek net soos Elvis
wat vir Priscilla laat weet:
“You were always on my mind,
ek voel blind, o die Here weet.”

Die laat nagte vind my
en die bottel verdrink my, Dominique.
Ons gister, jou môre,
jou blou oë en jou aura Dominique.

Woorde & musiek: Brixton Barnard

Stem en baskitaar: Brixton Barnard
Aanvullende stem en akoestiese kitaar: Roof Bezuidenhout
Lead kitaar: Kapelaan Pat Plank
Drums: Moord Graham

© Brixton Moord & Roof Orkes