Twee dekades – ‘n fotobeeld

Die Brixton Moord en Roof Orkes is waarskynlik een van die min Afrikaanse bands wat nou al vir meer as twee dekades lank musiek opneem en vrystel. Come to think of it, ‘n mens sou dieselfde van die Buckfever Underground ook kon sê. Nietemin, die Brixton Moord en Roof Orkes is in 1999 deur Andries Bezuidenhout (Roof) en Ockert Greeff (Moord) begin. Die naam is ontleen aan die berugte polisie-eenheid, die Brixton moord en roof-eenheid – “Brixton murder and robbery squad” in Engels. Albei die stigterslede het in Brixton gewoon en het by hul local bar, die Albelarde Sanction, tydens open mic-sessies besluit om ‘n band te begin. In hierdie tyd het die band vir die eerste keer as duo by Oppikoppi opgetree. Andries het op ‘n nylonsnaarkitaar gespeel en Ockert op ‘n djembe-trom. Die aanvanklike musikale benardering was meer folk as rock en die band se ietwat agressiewe naam is so half ironies bedoel. Die band het glad nie geklink soos ‘n mens sou verwag nie en het eerder introspektiewe songs met ‘n fokus op digterlike lirieke aangebied.

Weldra het die band se klank van folk af rock toe beweeg, maar die aandag aan goeie lirieke het gebly. Toe Ockert ‘n volle drum kit aanskaf (‘n Tama-stel) moes die band ‘n baskitaarspeler kry en weldra het Steve Savage, die baskitaarspeler van Shark Brother, een van die ander bands wat Albelarde regulars was, by hulle aangesluit.

Van links af, Roof Bezuidenhout, Moord Greeff en Brixton Savage in die Abelarde Sanction in Brixton, ongeveer 2000 of 2001.

Die band by die Bingo in Brixton, ‘n vroeë publisiteitsfoto. Van links af, Moord Greeff, Brixton Savage en Roof Bezuidenhout, ook ongeveer 2000 of 2001.

Steve Savage het drie tracks opgeneem wat as EP op ‘n website genaamd Digital Cupboard vrygestel is. Die opnames is helaas vir ewig verlore. Steve is ‘n geoloog en het Zambië toe verhuis vir werk. Die band het Drikus Barnard, ‘n ander Abelarde Sanction regular, gevra om Steve se plek in te neem. Hy is toe as Brixton Barnard herdoop. Hierdie drie het ‘n eerste album by Paul Riekert se studio in Albertsville opgeneem wat in 2002 as Spergebied vrygestel is. Die drums is by die SAUK se RP Studios opgeneem. Clair Cantrell – ook bekend as Esmé Evakwaad – het met haar ryk stem backing vocals op die album gedoen, wat aan die album ‘n besonderse atmosfeer verleen het.

‘n Foto van die band deur Sally Shorkend wat in die tydskrifInsig verskyn het. Van links af, Roof Bezuidenhout, Moord Greeff en Brixton Barnard.

Foto: Toast Coetzer, Esmé Evakwaad en Roof Bezuidenhout by Aardklop se rock festival, waarskynlik in 2002 0f 2003.

Kort na die vrystelling van Spergebied het Drikus se broer Gerhard Barnard as elektriese kitaarspeler by die band aangesluit – hy sou as Kapelaan Pat Plank bekendstaan. Plank was Drikus en Gerhard se ander band, saam met Esmé Evakwaad – ‘n ware underground punk band.

Foto: Magriet Theron. Moord Greeff in Brixton, 2002.

Foto: Magriet Theron. Brixton Barnard in Brixton, 2002.

Foto: Magriet Theron. Kapelaan Pat Plank in Brixton, 2002. Die verlore swart hond sou meer as twee dekades later ‘n rol speel in ‘n liriek op die band se album “Strate sonder bome” (2023).

In 2004 is die band se volgende album vrygestel – Terug in skubbe. Dis weer by Paul Riekert opgeneem. Die drums is by Peter Auret opgeneem en hy het ook een van die tracks – die immergroen “Paul van der Zandt” opgeneem en gemeng. Op die album was ook ‘n liriek deur Koos du Plessis, wat deur sy dogter Karla getoonset is, naamlik “Dagboek van ‘n swerwer”.

Die launch van “Terug in skubbe” by die Bohemian in Richmond, 2004. Van links af, Brixton Barnard, Moord Greeff, Roof Bezuidenhout en Kapelaan Pat Plank.

Die band saam met Karla du Plessis by Aardklop se rock festival, waarskynlik in 2004 of 2005.

In hierdie tyd het die band gereeld by rock festivals by plekke soos Oppikoppi en die Klein Karoo Nasionale Kunsfees in Oudtshoorn opgetree. Die track “Fortuinverteller” is op RSG geplaylist – waarskynlik die grootste wonderwerk in die band se geskiedenis, gegewe die tipe musiek wat tipies in daardie tyd op RSG gespeel is. “Spoed” en “Fortuinverteller” is in die TV reeks Orion gebruik, met Neil Sandilands in die hoofrol. ‘n Video vir “Spoed” is op MK89 uitgesaai, wat baie gehelp het om die band aan ‘n groter gehoor voor te stel. Die band het selfs op die soap opera Egoli verskyn, ‘n vreemde besluit vir ‘n underground band van Brixton. Brixton Barnard sou later bieg dat hy ingestem het net om Brümilda van Rensburg te kon ontmoet.

Oppikoppi Easter Festival, 2002.

Oppikoppi in 2006, Roof Bezuidenhout en Kapelaan Pat Plank.

By Steak & Ale in Centurion, een van die plekke waar die band baie goed ondersteun is.

Poster vir optrede by die Mystic Boer in Stellenbosch.

‘n Hartseer oomblik vir die band was toe Moord Greeff besluit het om Kanada toe te verhuis. In daardie tyd was hy in ‘n ernstige verhouding met ‘n Kanadees wat hy in Melville ontmoet het. Hulle is later in Montreal getroud en woon steeds daar. Die band se laaste gig in hierdie formaat was in die Bohemian in Richmond, Johannesburg.

Laaste optrede in die Bohemian voor Moord Kanada toe verhuis het.

Vir ‘n tyd na Ockert se vertrek was Andy Evans, wat ook saam met Drikus en Gerhard in Plank was, die band se drummer. Hy het ‘n video saam met die band vir die track “Vis” in die Bohemian opgeneem.

In kostuum vir die “Vis” video, van links af is Kapelaan Pat Plank, Roof Bezuidenhout, Andy Evans, Brixton Barnard.

Poster vir ‘n Steak & Ale gig saam met Die See.

Vanaf die vroeë-2010s was die band in ‘n tipe hiatus toe lede van die band op ander musikale projekte gefokus het. Drikus het Roof se tweede solo album opgeneem en gemeng. Self het Drikus op sy duo saam met Clair Cantrell (oftewel Esmé Evakwaad) genaamd Trike gefokus. Later in die dekade is die Brixton Moord en Roof Orkes egter weer revive, toe met Louis Graham as drummer. Die vierluik het weer begin optree en ‘n volgende album opgeneem. Die CD is uiteindelik in 2014 as Slaaptyd in die suburbs as ‘n oplaag van 100 boeke met lirieke en afdrukke van skilderye deur Marguerite Visser vrygestel. Die volgende jaar is dit ook in gewone CD-formaat uitgegee.

In Oudtshoorn, met Louis Graham op drums, foto deur Willim Welsyn.

In 2015 het Brixton Barnard die gebruik van een van sy arms verloor en kon nie meer baskitaar speel nie. Met ‘n reeks optredes saam met Gert Vlok Nel moes sy broer Gerhard hom begelei. In daardie tyd het Ockert (Moord Greeff) Suid-Afrika besoek en ‘n optrede by die skrywer en dramaturg Harry Kalmer se huis in Observatory in Johannesburg was die laaste keer wat die vier saam op een plek was. Drikus se vermoë om te kommunikeer het ook agteruitgegaan. Daar is toe vasgestel dat daar ‘n gewas op sy brein was. Omdat Drikus ‘n voltydse musikant was, het hy nie ‘n mediese fonds gehad nie. ‘n Hele groep musikante het ‘n benefit konsert by die Melkery buite Pretoria vir Drikus se operasie gehou en genoeg geld is ingesamel om te betaal sodat die gewas van sy brein verwyder kon word. Met die operasie is daar ongelukkig vasgestel dat die gewas veel groter was as wat aanvanklik gereken is. Drikus is kort daarna oorlede, maar die operasie het gemaak dat hy vir sowat drie maande weer helder kon kommunikeer. Hy is by sy broer Gerhard se huis in Pretoria dood en ‘n hele aantal van die band se ondersteuners het hul bes gedoen om sy laaste maande so gemaklik as moontlik te maak.

Die laaste keer toe die band saam in een plek was, by Harry Kalmer en Sanpat Hattingh se huis in Observatory, Johannesburg, in Maart 2015. Van links na regs: Kapelaan Pat Plank, Roof Bezuidenhout, Moord Greeff, Brixton Barnard. Gert Vlok Nel en Brixton Barnard het die aand opgetree.

In 2019 het Ockert Greeff Suid-Afrika weer besoek. Daar is besluit om ‘n tipe reünie gig te doen, met beide Ockert en Louis Graham op drums. In Drikus se afwesigheid het Simon Kruger van die band Nul baskitaar gespeel. Die gig was by die Jarr Bar in Pretoria, op 14 Desember 2019. Louis het drums tydens die eerste set gespeel, meestal songs van die album Slaaptyd in die suburbs, wat hy saam met die band opgeneem het. Ockert was die drummer vir die tweede set, met musiek van Spergebied en Terug in skubbe af, wat hy weer saam met die band opgeneem het.

Poster vir die gig by Jarr Bar.

In 2020 het die band gereed gemaak om ‘n gig by Strab te doen, ‘n festival wat jaarliks deur scuba-duikers in die suide van Mosambiek gehou word. Baie van die ou Oppikoppi crowd woon tipies hierdie festival by en die band het al ‘n vorige slag daar opgetree. Daardie jaar het die Covid-19 pandemie egter uitgebreek en Strab is noodgedwonge afgestel. In Mei 2021 is Louis Graham aan Covid oorlede, nog tydens die lockdown-periode. Wat die tragedie soveel erger gemaak het, is dat van sy familie, vriende en mede-bandlede die begrafnisdiens op die web moes volg.

Louis Graham, watSlaaptyd in die suburbs saam met die band opgeneem het. Hy is in 2021 aan Covid oorlede.

In die lockdown tyd het Andries van sy tyd gebruik om sy musiekproduksievaardighede te verbeter, met behulp van gesprekke met Willem Möller oor e-mail en ‘n solo album waaraan Andries aan die opneem en meng was. Andries het in daardie stadium in Alice in die Oos-Kaap gewoon, Gerhard in Pretoria, en Ockert steeds in Montreal. Kort voor hy dood is, het Drikus agt tracks opgeneem vir ‘n volgende album vir die band. Hierdie tracks was rofweg opgeneem vir Andries om na te luister en om dan verdere songs vir die album te skryf – as ‘n tipe tweegesprek. Andries en Gerhard het kopieë van hierdie tracks op hul rekenaars se hardeskywe gehad, maar nie een van die twee het daarvoor kans gesien om daarna terug te keer nie. Na Louis se dood het Andries, Gerhard en Ockert begin kommunikeer (meestal op WhatsApp) oor Drikus se agt tracks. Hulle het saam aan ‘n album begin werk as ‘n tipe huldeblyk aan beide Drikus en Louis. Die resultaat was Bazaar punk, wat in Januarie 2022 vrygestel is.

Roof verduidelik hoeBazaar punk onstaan het.

Bazaar punk sou nie die band se laaste album wees, soos verwag is nie. Die drieluik het aanhou gesels en tracks heen en weer tussen Suid-Afrika en Kanada stuur. Al drie het in beter klank-ateljees belê en op 16 Desember 2023 word die volgende album Strate sonder bome vrygestel.