Die Brixton Moord en Roof Orkes is waarskynlik een van die min Afrikaanse bands wat nou al vir meer as twee dekades lank musiek opneem en vrystel. Come to think of it, ʼn mens sou dieselfde van die Buckfever Underground ook kon sê. Nietemin, die Brixton Moord en Roof Orkes is in 1999 deur Andries Bezuidenhout (Roof) en Ockert Greeff (Moord) begin. Die naam is ontleen aan die berugte polisie-eenheid, die Brixton moord en roof-eenheid – “Brixton murder and robbery squad” in Engels. Albei die stigterslede het in Brixton gewoon en het by hul local bar, die Albelarde Sanction, tydens open mic-sessies besluit om ʼn band te begin. In hierdie tyd het die band vir die eerste keer as duo by Oppikoppi opgetree. Andries het op ʼn nylonsnaarkitaar gespeel en Ockert op ‘n djembe-trom. Die aanvanklike musikale benardering was meer folk as rock en die band se ietwat agressiewe naam is so half ironies bedoel. Die band het glad nie geklink soos ʼn mens sou verwag nie en het eerder introspektiewe songs met ʼn fokus op digterlike lirieke aangebied.
Weldra het die band se klank van folk af rock toe beweeg, maar die aandag aan goeie lirieke het gebly. Toe Ockert ʼn volle drum kit aanskaf (ʼn Tama-stel) moes die band ʼn baskitaarspeler kry en weldra het Steve Savage, die baskitaarspeler van Shark Brother, een van die ander bands wat Albelarde regulars was, by hulle aangesluit.
Van links af, Roof Bezuidenhout, Moord Greeff en Brixton Savage in die Abelarde Sanction in Brixton, ongeveer 2000 of 2001.
Die band by die Bingo in Brixton, ʼn vroeë publisiteitsfoto. Van links af, Moord Greeff, Brixton Savage en Roof Bezuidenhout, ook ongeveer 2000 of 2001.
Steve Savage het drie tracks opgeneem wat as EP op ʼn website genaamd Digital Cupboard vrygestel is. Die opnames is helaas vir ewig verlore. Steve is ʼn geoloog en het Zambië toe verhuis vir werk. Die band het Drikus Barnard, ʼn ander Abelarde Sanction regular, gevra om Steve se plek in te neem. Hy is toe as Brixton Barnard herdoop. Hierdie drie het ʼn eerste album by Paul Riekert se studio in Albertsville opgeneem wat in 2002 as Spergebied vrygestel is. Die drums is by die SAUK se RP Studios opgeneem. Clair Cantrell – ook bekend as Esmé Evakwaad – het met haar ryk stem backing vocals op die album gedoen, wat aan die album ʼn besonderse atmosfeer verleen het.
‘n Foto van die band deur Sally Shorkend wat in die tydskrifInsig verskyn het. Van links af, Roof Bezuidenhout, Moord Greeff en Brixton Barnard.
Foto: Toast Coetzer, Esmé Evakwaad en Roof Bezuidenhout by Aardklop se rock festival, waarskynlik in 2002 0f 2003.
Kort na die vrystelling van Spergebied het Drikus se broer Gerhard Barnard as elektriese kitaarspeler by die band aangesluit – hy sou as Kapelaan Pat Plank bekendstaan. Plank was Drikus en Gerhard se ander band, saam met Esmé Evakwaad – ʼn ware underground punk band.
Foto: Magriet Theron. Moord Greeff in Brixton, 2002.
Foto: Magriet Theron. Brixton Barnard in Brixton, 2002.
Foto: Magriet Theron. Kapelaan Pat Plank in Brixton, 2002. Die verlore swart hond sou meer as twee dekades later ‘n rol speel in ‘n liriek op die band se album “Strate sonder bome” (2023).
In 2004 is die band se volgende album vrygestel – Terug in skubbe. Dis weer by Paul Riekert opgeneem. Die drums is by Peter Auret opgeneem en hy het ook een van die tracks – die immergroen “Paul van der Zandt” opgeneem en gemeng. Op die album was ook ʼn liriek deur Koos du Plessis, wat deur sy dogter Karla getoonset is, naamlik “Dagboek van ʼn swerwer”.
Die launch van “Terug in skubbe” by die Bohemian in Richmond, 2004. Van links af, Brixton Barnard, Moord Greeff, Roof Bezuidenhout en Kapelaan Pat Plank.
Die band saam met Karla du Plessis by Aardklop se rock festival, waarskynlik in 2004 of 2005.
In hierdie tyd het die band gereeld by rock festivals by plekke soos Oppikoppi en die Klein Karoo Nasionale Kunsfees in Oudtshoorn opgetree. Die track “Fortuinverteller” is op RSG geplaylist – waarskynlik die grootste wonderwerk in die band se geskiedenis, gegewe die tipe musiek wat tipies in daardie tyd op RSG gespeel is. “Spoed” en “Fortuinverteller” is in die TV reeks Orion gebruik, met Neil Sandilands in die hoofrol. ʼn Video vir “Spoed” is op MK89 uitgesaai, wat baie gehelp het om die band aan ʼn groter gehoor voor te stel. Die band het selfs op die soap opera Egoli verskyn, ʼn vreemde besluit vir ʼn underground band van Brixton. Brixton Barnard sou later bieg dat hy ingestem het net om Brümilda van Rensburg te kon ontmoet.
Oppikoppi Easter Festival, 2002.
Oppikoppi in 2006, Roof Bezuidenhout en Kapelaan Pat Plank.
By Steak & Ale in Centurion, een van die plekke waar die band baie goed ondersteun is.
Poster vir optrede by die Mystic Boer in Stellenbosch.
ʼn Hartseer oomblik vir die band was toe Moord Greeff besluit het om Kanada toe te verhuis. In daardie tyd was hy in ʼn ernstige verhouding met ʼn Kanadees wat hy in Melville ontmoet het. Hulle is later in Montreal getroud en woon steeds daar. Die band se laaste gig in hierdie formaat was in die Bohemian in Richmond, Johannesburg.
Laaste optrede in die Bohemian voor Moord Kanada toe verhuis het.
Vir ʼn tyd na Ockert se vertrek was Andy Evans, wat ook saam met Drikus en Gerhard in Plank was, die band se drummer. Hy het ʼn video saam met die band vir die track “Vis” in die Bohemian opgeneem.
In kostuum vir die “Vis” video, van links af is Kapelaan Pat Plank, Roof Bezuidenhout, Andy Evans, Brixton Barnard.
Poster vir ‘n Steak & Ale gig saam met Die See.
Vanaf die vroeë-2010s was die band in ʼn tipe hiatus toe lede van die band op ander musikale projekte gefokus het. Drikus het Roof se tweede solo album opgeneem en gemeng. Self het Drikus op sy duo saam met Clair Cantrell (oftewel Esmé Evakwaad) genaamd Trike gefokus. Later in die dekade is die Brixton Moord en Roof Orkes egter weer revive, toe met Louis Graham as drummer. Die vierluik het weer begin optree en ʼn volgende album opgeneem. Die CD is uiteindelik in 2014 as Slaaptyd in die suburbs as ʼn oplaag van 100 boeke met lirieke en afdrukke van skilderye deur Marguerite Visser vrygestel. Die volgende jaar is dit ook in gewone CD-formaat uitgegee.
In Oudtshoorn, met Louis Graham op drums, foto deur Willim Welsyn.
In 2015 het Brixton Barnard die gebruik van een van sy arms verloor en kon nie meer baskitaar speel nie. Met ʼn reeks optredes saam met Gert Vlok Nel moes sy broer Gerhard hom begelei. In daardie tyd het Ockert (Moord Greeff) Suid-Afrika besoek en ʼn optrede by die skrywer en dramaturg Harry Kalmer se huis in Observatory in Johannesburg was die laaste keer wat die vier saam op een plek was. Drikus se vermoë om te kommunikeer het ook agteruitgegaan. Daar is toe vasgestel dat daar ʼn gewas op sy brein was. Omdat Drikus ʼn voltydse musikant was, het hy nie ʼn mediese fonds gehad nie. ʼn Hele groep musikante het ʼn benefit konsert by die Melkery buite Pretoria vir Drikus se operasie gehou en genoeg geld is ingesamel om te betaal sodat die gewas van sy brein verwyder kon word. Met die operasie is daar ongelukkig vasgestel dat die gewas veel groter was as wat aanvanklik gereken is. Drikus is kort daarna oorlede, maar die operasie het gemaak dat hy vir sowat drie maande weer helder kon kommunikeer. Hy is by sy broer Gerhard se huis in Pretoria dood en ʼn hele aantal van die band se ondersteuners het hul bes gedoen om sy laaste maande so gemaklik as moontlik te maak.
Die laaste keer toe die band saam in een plek was, by Harry Kalmer en Sanpat Hattingh se huis in Observatory, Johannesburg, in Maart 2015. Van links na regs: Kapelaan Pat Plank, Roof Bezuidenhout, Moord Greeff, Brixton Barnard. Gert Vlok Nel en Brixton Barnard het die aand opgetree.
In 2019 het Ockert Greeff Suid-Afrika weer besoek. Daar is besluit om ʼn tipe reünie gig te doen, met beide Ockert en Louis Graham op drums. In Drikus se afwesigheid het Simon Kruger van die band Nul baskitaar gespeel. Die gig was by die Jarr Bar in Pretoria, op 14 Desember 2019. Louis het drums tydens die eerste set gespeel, meestal songs van die album Slaaptyd in die suburbs, wat hy saam met die band opgeneem het. Ockert was die drummer vir die tweede set, met musiek van Spergebied en Terug in skubbe af, wat hy weer saam met die band opgeneem het.
Poster vir die gig by Jarr Bar.
In 2020 het die band gereed gemaak om ʼn gig by Strab te doen, ʼn festival wat jaarliks deur scuba-duikers in die suide van Mosambiek gehou word. Baie van die ou Oppikoppi crowd woon tipies hierdie festival by en die band het al ʼn vorige slag daar opgetree. Daardie jaar het die Covid-19 pandemie egter uitgebreek en Strab is noodgedwonge afgestel. In Mei 2021 is Louis Graham aan Covid oorlede, nog tydens die lockdown-periode. Wat die tragedie soveel erger gemaak het, is dat van sy familie, vriende en mede-bandlede die begrafnisdiens op die web moes volg.
Louis Graham, watSlaaptyd in die suburbs saam met die band opgeneem het. Hy is in 2021 aan Covid oorlede.
In die lockdown tyd het Andries van sy tyd gebruik om sy musiekproduksievaardighede te verbeter, met behulp van gesprekke met Willem Möller oor e-mail en ʼn solo album waaraan Andries aan die opneem en meng was. Andries het in daardie stadium in Alice in die Oos-Kaap gewoon, Gerhard in Pretoria, en Ockert steeds in Montreal. Kort voor hy dood is, het Drikus agt tracks opgeneem vir ʼn volgende album vir die band. Hierdie tracks was rofweg opgeneem vir Andries om na te luister en om dan verdere songs vir die album te skryf – as ʼn tipe tweegesprek. Andries en Gerhard het kopieë van hierdie tracks op hul rekenaars se hardeskywe gehad, maar nie een van die twee het daarvoor kans gesien om daarna terug te keer nie. Na Louis se dood het Andries, Gerhard en Ockert begin kommunikeer (meestal op WhatsApp) oor Drikus se agt tracks. Hulle het saam aan ʼn album begin werk as ʼn tipe huldeblyk aan beide Drikus en Louis. Die resultaat was Bazaar punk, wat in Januarie 2022 vrygestel is.
Roof verduidelik hoeBazaar punk onstaan het.
Bazaar punk sou nie die band se laaste album wees, soos verwag is nie. Die drieluik het aanhou gesels en tracks heen en weer tussen Suid-Afrika en Kanada stuur. Al drie het in beter klank-ateljees belê in Desember 2023 is die volgende album Strate sonder bome vrygestel.
Rhythm Records se mediaverklaring vir die vrystelling van die CD in 2002:
Die Brixton Moord & Roof Orkes se Debuut-CD, “Spergebied”, word Vrydag, 3 Mei by The Bohemian in Richmond gelaunch. Nog ‘n Brixton band, Damn the Icbergs, sal by die geleentheid optree.
“Spergebied” word deur Rhythm Records versprei. Die produksie is deur Paul Riekert van Battery 9-faam behartig, en is tussen November 2001 en Januarie 2002 by RP Studios (M3) en One-F Studios in Johannesburg opgeneem. Die CD bevat ‘n aantal gunstelinge van die band se songs wat handel oor “heel alledaagse” onderwerpe soos oorlog, misdaad, dwelms, drank, emigrasie en road rage. Hulle enigste liefdeslied, “Witwolke”, is ook op die CD beskikbaar.
“Ons hou die songs oor seks, soos ‘Sussie se Sweep’ en ‘Wie is Lisa Forward?’ maar vir ons volgende CD,” sê Roof Bezuidenhout, sanger en kitaarspeler: “Ons wou ook nie te vinnig ‘n CD uitbring nie. Ons dink dis belangrik om eers self jou musiek na die mense toe te vat om te sien wat hulle daarvan dink. Maar nou begin hulle te veel moun omdat ons nog nie ‘n CD het nie.”
Die band is pas terug in Johannesburg na ‘n aantal landwye optredes, insluitende die Jack Daniel’s Deconstruction Music Festival naby Nigel, die Willie Smit Festival by Oppikoppi in Northam, en Kaktus op die Vlaktes en die Tassenberg Stalteater by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn.
Die Brixton Moord & Roof Orkes is een van ‘n nuwe generasie Afrikaanse rock bands wat volg in die spore van mense soos Koos Kombuis, Valiant Swart en Johannes Kerkorrel. Soos Pieter Redelinghuys in Insig (Desember 2001) skryf: “Vandag se kragtige Afrikaanse musiekgroepe gee Afrikaans skop in rock, pop, folk, hip-hop, punk en selfs boeremusiek en ghoema.” Hy noem Diff-olie, Gramadoelas, Beeskraal, Plank, Brixton Moord en Roof Orkes, Spinnekop, Akkedis, Duusman, Brasse Vannie Kaap, en Battery 9 as voorbeelde.
Op die oomblik bestaan die band uit Brixton Barnard op baskitaar, Moord Greeff op tromme en brandewyn, Roof Bezuidenhout op stemme en kitaar, en Kapelaan Pat Plank op lead kitaar. Musikaal wissel die band se styl tussen melancholiese folk-klanke van songs soos “Asyn” en “Geraamtes in jou kas”, tot die harde rock van “Road Rage” en “Brixton-dae”.
“Dit kan sommige mense afsit,” sê Inspekteur Mary Martins-Engelbrecht oor die gevaar dat die Brixton Moord & Roof Orkes dalk verkeerdelik met die polisie verbind kan word. Sy het die band al op “Geraas” gesien (Beeld, 27 Desember 2000). Ongelukkig maak sommige mense nog die fout om te dink die Brixton Moord & Roof Orkes is ‘n polisie-blaasorkes, in plaas van die Afrikaanse rock band van Johannesburg wat hulle wél is.
“Dit is vir ons baie snaaks dat die eenheid óns naamgenoot is,” sê Moord Greeff, die band se tromspeler en skrywer van sommige van hulle lirieke. Intussen is die polisie se Brixton Moord en Roof Eenheid gesluit om plek te maak vir die Johannesburgse Ernstige Gewelddadige Misdaad Eenheid.
Die band is einde 1999 deur Roof en Moord in Brixton begin toe hulle by die Abelarde Sanction begin optree het. (Dit het gehelp dat dit binne kruipafstand van beide se huise is). Die Abelarde Sanction is ‘n berugte kroeg in Brixton waar vele bands hulle tande op die live scene slyp. Sommige van hulle, soos Sunways, Karen Zoid, en Zen Arcade, is nou al bekend, maar baie ander is net eenvoudig só underground dat hulle waarskynlik nooit tot ‘n groter mark sal deurdring nie.
Gelukkig het die Brixton Moord & Roof Orkes vinnig vooruit gegaan, en reeds in April 2000 vir die eerste keer by die Oppikoppi Easter Festival opgtree. Sedertdien het hulle nog drie keer by Oppikoppi gespeel. Benewens ‘n verskyning by Aardklop in Potchefstroom, sluit ander venues waar hulle die afgelope twee jaar opgetree het Up The Creek (Hatfield, Pretoria), Bugsy’s Beat Bar (Randburg, Johannesburg), Cool Runnings (Wonderboom, Pretoria), The Nile Crocodile (Lynwood, Pretoria) en Oppistasie (Sannieshof) in. Hulle het ook al verskynings gemaak op TV programme soos “Geraas”, “Kwêla” en “Draadloos”, en (meestal) gunstige artikels in publikasies soos Beeld, JIP, Insig, The Wire, De Volkskrant, en die Burger losgeslaan.
Uittreksels uit resensies:
Afrikaans music in the folk or folk/rock style has been around for ages, producing excellent song writers like the superb Koos du Plessis and Koos Kombuis, reflecting many aspects of life in South Africa. This album carries on in that fine tradition. Spergebied (restricted or no-go area) is an incredibly frank and honest look at Joburg and its people, particularly those living in the south. No-go areas of the human psyche, despair, hope, deterioration, love and violence are confronted with humour, anger, irony and sensitivity using brilliant imagery. Die Geraamtes in Jou Kas takes an evocative look at the township war and the effect it has left on the young conscripts in the Casspirs. Don’t let me give you the impression that this album is all doom and gloom. There is a great balance and serious fun, some great lines and good music that will leave you wondering when the next Brixton Moord en Roof Orkes CD will be coming out. – Etienne Creux, Pretoria News, 21 August 2002
Hoor die sirenes van een nul trippel een / hoor die skote in Westbury klap / die sente van ‘n bedelaar, die rande van ‘n pusher / koop nie die vrede wat ons almal voor wag… want soos al die dae, al die dae / soos al die dae was vandag maar kak… Só sing Roof Bezuidenhout op “Brixton Dae”, een van twaalf snitte op die Brixton Moord en Roof Orkes se treffende debuut-CD, “Spergebied”. Daar is volop verwysings na lewe in die stad – misdadigers, padvarke, drank- en dwelmlustiges, geldwolwe en sukkelaars skuur skouers en kry lewe op snitte soos “Geen Land”, “Road Rage”, “Dronk op jou eie”, “As die yuppies jodel” en “Sewe rand vir die maand”. BMRO se rock het egter sy voete geplant is sterk folk-elemente. Dis op enkele snitte waar die angry rockdraak sy vuur spuug (vernaam “Road Rage”). Die res is akoesties van aard en dus sag genoeg om met oorgawe na BMRO se priemende lirieke te luister. “Spergebied” is ‘n knap debuut, ondanks die feit dat dit situasies en plekke skets wat plattelanders en diegene buite die geteisterde grense van Egoli dalk vreemd of onbekend sal vind. Die aggressie sou meer woema gehad het met ‘n elektriese kitaar in die groep (wat ná hierdie opname wel gestalte gekry het in die vorm van Pat Plank). Die vooruitsig laat ‘n mens uitsien na BMRO se opvolg-CD, want Afrikaanse rock het liriekskrywers soos hierdie nodig. – Pieter Redelinghuis, Insig
Firmly in the middle of the new wave of Afrikaans rock bands, BMRO plays driving folk rock – kind of like Koos du Plessis had he ever heard Nirvana. Yes, they’re really from Brixton, and with the bearded Andries Bezuidenhout at the helm and the eclectric Esme Eva Kwaad as occasional sidekick, they’re becoming a live act to be reckoned with. Their debut album is uncomplicated in sound an filled with great songs (good lyrics is one of their hallmarks) about women, drinking, Jo’burg, yuppies, road rage and life in general. ‘Brixton-dae’ is a classic already, with our heroes waiting for ‘beter dae, want vandag was kak.’ ‘Geen Land’ looks beyond SA’s kak and crime to possible saviours, while ‘Dronk Op Jou Eie’ explores the familiar beauty of getting drunk on your own: ‘Ek wil hurk in die gorrel van ‘n bottel/ Ek wil skuil in die stilte tussen teue.’ On the whole, music that will make you feel better the moring after you did something reprehensible. – Toast Coetzer, SL Magazine, Desember 2002/Januarie 2003
Every now and then (quite often, actually) I get tired of listening to songs about Nashville, Tennessee, New York, New York, Route 66 and the Vietnam war. Loud applause greets Bruce Springsteen everytime he sings about his Jersey Girl and being Born in the USA. But these (and other) songs mean very little to a born and bred South African like myself. Where are the songs written from the South African perspective about life and living in South Africa? Well, actually there are plenty. A few recent English-speaking (or should that be singing and rapping) artists, like Moodphase 5ive and Syd Kitchen, sing about life as it really is in South Africa, but if you really want songs about Jeffreys Bay, driving through the Karoo, Port St Johns, buying drugs in Stellenbosch and picking up girls from the Strand, listen to the Afrikaans rock poets. There are far too many to name here, but one of the newest Afrikaans rock bands to sing about real life in South Africa are the Brixton Moord en Roof Orkes (Brixton Murder and Robbery Band). To quote their website: “Brixton” here does not refer to the Brixton in London, but to a suburb of Johannesburg, South Africa. The name of the band refers to a notorious police unit (now disbanded), that was stationed in the suburb… On their debut album ‘Spergebied’ (Restricted Area) they sing about the dark side of South Africa, based on their own very real experiences. There are songs about living and jolling in Brixton and Melville (Brixton-Dae), the merits of getting drunk on your own (Dronk op jou eie), road rage (err, Road Rage) and a song for those that leave SA for greener pastures (Geen Land). And I love those little soundbites that link the songs: “this is the final call for passengers Barnard, Greef and Bezuidenhout delaying British Airways flight to London…” and “you have no new messages”. ‘Geraamtes in jou kas’ is about the nightmares that are suffered by the soldiers that had to go into the townships to “maintain the peace”. “Jy onthou die vure/ en die wiele van ‘n Casspir/ en die reuk van brandende rubber/ deur die neus van jou gasmasker”. This is not a very cheerful album on the lyrical side, but the music really rocks. So, to mis-quote Syd (Kitchen, not Barrett), this CD is not for sissies, but the brave listener who ventures into this Restricted Area will be rewarded with some very unrestricted Afrikaans Rock. – Brian Currin, SA Rock Digest, April 2002
SPERGEBIED – LIRIEKE
[1] WAG
Stewels in die nag ‘n Perron wat wag Daar’s reën op die ruit Die vlae waai traag Suid
Steeds geen teken Niks om op te reken Ooit weer die streling? Glim die koue reling
Die perron is verlate Die spore vol gate Die sement swyg koud Die nag is oud
Steeds geen teken Niks om op te reken Ooit weer die streling? Glim die koue reling
Was dit daar ‘n voetstap Digby die deur wat klap? Die vlae lag luid Daar’s spore op die ruit
Steeds geen teken Niks om op te reken Ooit weer die streling? Glim die koue reling
Nou die sinjaal wat lag Steeds bly dit nag Daar’s dou op die ruit Die vlae wil muit
Steeds geen teken Niks om op te reken Ooit weer die streling? Glim die koue reling
Woorde: Moord Greeff, musiek: Roof Bezuidenhout
[2] BRIXTON-DAE
Hoor die seine van die Brixtontoring Volg die ritme van die honde wat blaf Bingo in Highstraat, junkies wat lag Maar ons sit tevrede in die Abelarde en wag
Vir beter dae, beter dae Beter dae, want vandag was kak
Hoor die sirenes van een nul trippel een Hoor die skote in Westbury klap Die sente van ‘n bedelaar, die rande van ‘n pusher Koop nie die vrede wat ons almal voor wag
Want soos al die dae, al die dae Soos al die dae was vandag maar kak
Ek hoor daar’s ‘n kraak in die watertoring Maar Khetso gee ons geld vir die Wêreldbank Nie ‘n boom in sig in downtown Brixton Wat wil white trash nou met koelte maak?
Gee my beter dae, beter dae Beter dae, want vandag was kak
Gee jou hart vir Hillbrow, sy skop jou in die gat Melville gee jou sooibrand, Rosebank steel jou geld Yeoville is te hectic en Orangegrove te ver Maar in Brixton wag ons in die local bar
Vir beter dae, vir beter dae Beter dae, want vandag was rêrig nie baie nice nie
Woorde en musiek: Roof Bezuidenhout
[3] GEEN LAND
Daar is geen land, so ver of woes geleë Land van vrede, land van vrees Land van rykdom, land verwees Land van dood en land van hoop Land waar kinders deur rommel loop
Ons dans tussen soekligte en doringdraad Drink en juig tot die daeraad Pille vir depressie, wyn vir die pyn Ons hoop op vrede, maar ons wag op die kaptein
Daar is geen land, so ver of woes geleë Land van liefde, land van haat Land van waagmoed en verraad Shopping malls en polisiestasies Land wat baie offers vra
Ons dans tussen soekligte en doringdraad Drink en juig tot die daeraad Pille vir depressie, wyn vir die pyn Ons hoop op vrede, maar ons wag op die kaptein
En as jou vliegtuig eindelik land Jou paspoort stewig in jou hand ‘n Nuwe land met ‘n nuwe lewe Dink aan ons soos ‘n slegte gewete
Waar ons dans tussen soekligte en doringdraad Drink en juig tot die daeraad Pille vir depressie, wyn vir die pyn Ons hoop op vrede, maar ons wag op die kaptein
Woorde en musiek: Roof Bezuidenhout
[4] WITWOLKE
Bo my is die onmeetlike blou En ek laat my asem saggies uit Om vir jou witwolke te stuur Want witwolke is soos woorde En wanneer hulle lag Sal ek weet hulle streel oor jou vel En kleur dit die geur van jasmyn
My witwolke moet saam met jou reis Sodat jy van my dink soos van wolke wat wasem
En as ek my oë toemaak En na my wit wolke luister Dan hoor ek hoe hulle skater In die blou van jou oë
My witwolke moet saam met jou reis Sodat jy van my dink soos van wolke wat wasem
Woorde: Moord Greeff, musiek: Roof Bezuidenhout
[5] AS DIE YUPPIES JODEL
Jou program vir elke dag Is uitgewerk vir gemak Jy trap jou spore diep Idees vir verbruik verpak Jou oë kyk na vore Beplan die dag van môre
Jy eet drie borde Ambisie vir brekfis
Daar’s Ray-Bans voor jou oë Aktetas in jou hand Kantoor hoog in ‘n toring Bankbestuurder aan jou kant Jou kar is blink, baie flink ʼn CV vol sukses wat wink
Jy eet drie borde Ambisie vir brekfis
Ek sien jou in ‘n straatkafee Nuutste kliënt wat jou verveel Maar jy praat en jy scheme, neem maar deel Want daar dollars, ponde, nooit te veel Vir ‘n man soos jy wat in Melville bly Wat nooit genoeg van alles kry
Jy eet drie borde Ambisie vir brekfis En jy spoel dit af met ‘n glas gewete
Woorde en musiek: Roof Bezuidenhout
[6] INKVIS
Ek en die inkvis sit op die bus ‘n Luilekker Woensdag hang in die lug Niks is meer heilig, hulle het alles gestop Melville se swembad vol rubble geprop
Nou ek en die inkvis, ons swem lank nie meer Maar ons dink aan die kinders, hul hartseer, hul seer Niks meer bikini, niks meer duikplank Johannesburg versoen hom met ‘n babelaas stank
En Dali, Dali Salvador Dali se se prent hang skuins
Ja ek en die inkvis bemoei ons met kuns Partykeer vir lêplek, partykeer vir wins Fleamarket is ‘n fokkop, our paintings won’t sell Ons hou van diep kleure, nie huisvroupastel
Ek en die inkvis, ‘n thousand new schemes Share sewe nuggets, die American Dream Swem in die balle, ry op die swings Daar’s ‘n vriendelike stem in die camel masjien
Maar Dali, Dali Salvador Dali se prent hang skuins
Dit is die end van die maand se rent Die rent is by die bar gespend The Putco bus is calling us Driver where you’re taking us? Deur die hart van die goudmasjien Kan ons ‘n waiter kry om ons te bedien?
Ek en die inkvis, ons kyk vir die straat Die ANC posters, die fashion soldaat Niks is meer heilig, hulle het als gestop Die bands by Roxy vir techno gedrop
Nou ek en die inkvis, ons dans lank nie meer Terrible kopseer en voete wat keer Sit op die TV, kyk na die muur Die bure is stil en die ou lady suur
En Dali, Dali Salvador Dali se prent moer af
Woorde en musiek: Brixton Barnard
[7] WESKUSBABELAAS
Soos die strukture van stomp in die vuur verdwyn En die maan se lig oor die see ophou skyn As ‘n tekort aan paraffien die lamp laat ophou brand En ‘n misbank te laag gaan lê oor die sand
Dan het die oggendstond ‘n nasmaak in die mond Van die vorige aand se vangs van mensevlees
Soos die laaste gesprek uit ‘n huis uitlek En die ou man en ou vrou na elders vertrek As slegs leë wynbottels op tafels aanhou kuier En die sonbesies skree om slapendes te wek
Dan het die oggendstond ‘n nasmaak in die mond Van die vorige aand se vangs van mensevlees
Jy sing ‘n ode vir die Weskus voor die mis verdwyn En sluk die knop in jou keel weg met ‘n laaste bietjie wyn Jy kyk uit oor die water, dink aan die skuite en die see Aan jou lewe en aan die dag wat jy jou laaste asem gee
Dan het die oggendstond ‘n nasmaak in die mond Van die vorige aand se vangs van mensevlees
Woorde en musiek: Roof Bezuidenhout
[8] SEWE RAND VIR DIE MAAND
Soms is jou pay tjek net-net te klein Om ‘n bachellor huishouding te dra En jou overdraft is gulsiger vir geld as vir wyn Voor die landlord eers begin om sy deel te vra
Sewe rand oor vir die res van die maand Sewe rand oor en ‘n halfjack En jou petroltenk suig aan die laaste dampe Van ‘n kwart tenk: jou laaste geskenk Van ‘n hitch hiker geruil vir ‘n lift
Die weeluise wemel weer in jou matras Die gate word groter en groter in jou jas In die oggend knoop jy nog trots aan jou das Maar daar’s ‘n jogurtvlek op die punt wat jou verras
Sewe rand oor vir die res van die maand Sewe rand oor en ‘n halfjack En jou petroltenk suig aan die laaste dampe Van ‘n kwart tenk: jou laaste geskenk Van ‘n hitch hiker geruil vir ‘n lift
Aan die begin van die maand is jy gelukkig en ryk Met geld in die bank kan die depressie wyk Jy eet McDonalds in plaas van sardiens en brood Maar na ‘n week is dit maar brandewyn vir hoop
Sewe rand oor vir die res van die maand Sewe rand oor en ‘n halfjack En jou petroltenk suig aan die laaste dampe Van ‘n kwart tenk: jou laaste geskenk Van ‘n hitch hiker geruil
Woorde en musiek: Roof Bezuidenhout
[9] ASYN
‘n Paraffienlamp brand in jou kamer Langs ‘n spieël met ‘n houtraam Sewe duiwels dans om jou voete ‘n Swerm eilandvoëls in jou naam
Jy kyk ver en verby Na wat ander vermy
Daar’s ‘n skeermeslem op jou tafel En ‘n bottelnek in jou keel ‘n Comic strip lag van onder jou tong En ‘n stormwind waai deur jou are, jong
Jy kyk ver en verby Na wat ander vermy
Dis net vir jou wat jou bed in die lug hang Dis net jy wat daai kleure sien Vir ander lyk dit maar grys en kaal Dis hulle wat jou wil kom haal
Jy kyk ver en verby Na wat ander vermy
Woorde en musiek: Roof Bezuidenhout
[10] DRONK OP JOU EIE
Daar’s meriete in dronkword op jou eie Met ‘n bottel en net een glas Daar’s meriete in dronkword op jou eie Is jy seker van die smaak van jou pyn Weet jy hoe proe jou pyn Hoog die glas, jou gewete lag sag Haar mond was rond, die vorm van ‘n wond
Skel skyn die lig van my kombuis Alles is stil, net die yskas wat suis My voete word kouer maar my kop kry warm As die druppels langs my mond nog talm
Daar’s meriete in dronkword op jou eie Met ‘n bottel en net een glas Daar’s meriete in dronkword op jou eie Is jy seker van die smaak van jou pyn Weet jy hoe proe jou pyn Hoog die glas, jou gewete lag sag Haar mond was rond, die vorm van ‘n wond
Ek wil hurk in die gorrel van die bottel Ek wil skuil in die stilte tussen teue Maar ek leef in spasie tussen bottels Soos my huis van vrede in die storms verweer
Daar’s meriete in dronkword op jou eie Met ‘n bottel en net een glas Daar’s meriete in dronkword op jou eie Is jy seker van die smaak van jou pyn Weet jy hoe proe jou pyn Hoog die glas, jou gewete lag sag Haar mond was rond, die vorm van ‘n wond
Kyk, die son val in druppels af teen my bors Buite reën die blare, maar ek bly dors Laat die oggend maar reën en die nag vergaan Dit is ‘n bottel waarop my huisie staan Daar’s meriete in dronkword op jou eie
Woorde: Moord Greeff, musiek: Roof Bezuidenhout
[11] DIE GERAAMTES IN JOU KAS
‘n Hand kom deur jou venster En jou gloeilamp is ‘n oog wat loer Jou plafon bult in van bo af En naels krap van onder jou vloer Want jy weet, jy weet Die geraamtes in jou kas het begin kriewel
Die klere vroetel rond in jou trommel En jou stewels dans in die kas Jou rugsak het begin oopgaan En grynslag saam met jou jas Want jy weet, jy weet Die geraamtes in jou kas het begin kriewel
Jy onthou die stof Van ‘n township se strate En die haat in die oë Aan die end van jou geweer Want jy weet, jy weet Die geraamtes in jou kas het begin kriewel
Jy onthou die vure En die wiele van ‘n Casspir En die reuk van brandende rubber Deur die neus van jou gasmasker Want jy weet, jy weet Die geraamtes in jou kas het begin kriewel
So, trek jou hoed oor jou oë Vir Sharpeville en vir Boipatong En swaai aan jou droom Sodat jou skoene nooit nat word Van die modder op die grond Hier en daar gemeng met bloed Want jy weet, jy weet Die geraamtes in jou kas sal aanhou kriewel Die geraamtes in jou kas sal ewig kriewel
Woorde en musiek: Roof Bezuidenhout
[12] ROAD RAGE
Ek vat die oprit na die snelweg My voet hop tussen petrol en rem Agter die dieseldampe van ‘n seventies Benz Gee gas dat ek suurstof kan wen Ek kry road rage, road rage, road rage
‘n Suutjiespoep met ‘n een punt drie Blok jou pad in die regterbaan Ek skiet links verby dat ek vinnig kan ry Maar daar’s ‘n trok wat botstil staan Ek kry road rage, road rage, road rage
Druk daai masjien tot dit tweehonderd sien Natnaai in die Porche, waar gaan jy miskien Laat die bande suis, laat die wiele gons Dié pad is te klein vir die twee van ons Want ek’t road rage, road rage, road rage
Flash jou brights vir my en jy sal kak Daar’s ‘n baseball bat in my kattebak En road rage, road rage, road rage