Top Star – musiekvideo

Musiekvideo vir “Top Star” van die album Strate sonder bome. This music video contains English text that explains the history of the Top-Star Drive-In in Johannesburg. It was situated on top on one of the city’s many mine dumps and had spectacular views of the city skyline.

Pat Plank

Foto: Magriet Theron

Kapelaan Pat Plank se naam in die regte lewe is Gerhard Barnard. Hy is ‘n beeldhouer en musikant en woon in Pringlebaai in die Wes-Kaap. Hy het in 2002 reeds as lid van die Brixton Moord & Roof Orkes aangesluit, aanvanklik as elektriese kitaar-speler, maar deesdae ook baskitaar. Hy skryf ook van die band se musiek – onder andere die wysies vir twee van die band se gewildste songs, naamlik “Vis” (van die album Terug in skubbe) en die immergroen “C-Maximus” van die album Slaaptyd in die suburbs. Meer onlangs het hy ook begin om lirieke te skryf, soos “Die groot skabenga” van die album Bazaar punk en “Babelaas in Brixton” van die album Strate sonder bome. Vir laasgenoemde twee tracks het hy die musiek ook gekomponeer.

‘blissful slumber’, Gerhard Barnard, klip en klei, 25x15x10cm. Foto: Fomo Art Gallery
‘That’s My Star’, Gerhard Barnard, klip en draad, 13x18x9cm. Foto: Fomo Art Gallery.

Gerhard se beeldhouwerke is beskikbaar deur die galery wat hom verteenwoordig – kyk hier.

Moord Greeff

Foto: Magriet Theron

Moord Greeff, andersins bekend as Ockert Greeff, is ‘n digter en drummer wat in Montreal, Kanada woon. Hy is, saam met Roof Bezuidenhout, een van die twee stigterslede van die Brixton Moord & Roof Orkes. Hy is die band se drummer en percussionist en skryf ook lirieke. Hy is byvoorbeeld verantwoordelik vir die liriek van “Vis” van die album Terug in skubbe – ‘n slinkse verwerking van DJ Opperman se waarskuwing (in Komas uit ‘n bamboesstok) teen menslike regressie (of devolusie). In “Vis” omhels Moord Greeff die idee van omgekeerde evolusie, maar die oënskynlike bravade in die liriek is ook tog ‘n tipe waarskuwing. Ander lirieke deur Moord Greeff is “Witwolke” van die album Spergebied, “Liena Mondegreen se filosofie” van Bazaar punk, asook die titelsnit van die album Strate sonder bome.

Van sy gedigte is in letterkundige tydskrifte soos New Ohio Review, Ons Klyntji, South Florida Poetry Journal en Thimble Literary Magazine gepubliseer. In 2024 is hy aangewys as die wenner van die Vallum Chapbook Award. Van sy video’s wat gedigte en drumming kombineer, is by ‘n aantal filmfeeste vertoon, onder andere die Raleigh Film & Art Festival en die Small File Media Festival by Simon Fraser Universiteit.

Volg Moord op YouTube, Instagram, of lees meer oor hom op sy persoonlike werf.

Roof Bezuidenhout

Foto: Carina Laubscher

Roof Bezuidenhout, soms ook bekend as Andries Bezuidenhout, is saam met Moord Greeff een van die Brixton Moord & Roof Orkes se twee stigterslede. Hy woon in Alice in die Oos-Kaap. Hy is ‘n musikant, digter en skilder. In die band speel hy meestal akoestiese kitaar en sing. Hy het ook die band se laaste twee albums by sy tuis-studio gemeng. Hy is verantwoordelik vir tracks soos “Geraamtes in jou kas” van die album Spergebied, “Spoed” en “Fortuinverteller” van Terug in skubbe, asook “Vrou op die trein in die skildery” van Strate sonder bome.

Volg Roof op YouTube.

Roof se persoonlike website, met musiek, kuns, gedigte, ens.