Moord Greeff

Foto: Magriet Theron

Moord Greeff, andersins bekend as Ockert Greeff, is ‘n digter en drummer wat in Montreal, Kanada woon. Hy is, saam met Roof Bezuidenhout, een van die twee stigterslede van die Brixton Moord & Roof Orkes. Hy is die band se drummer en percussionist en skryf ook lirieke. Hy is byvoorbeeld verantwoordelik vir die liriek van “Vis” van die album Terug in skubbe – ‘n slinkse verwerking van DJ Opperman se waarskuwing (in Komas uit ‘n bamboesstok) teen menslike regressie (of devolusie). In “Vis” omhels Moord Greeff die idee van omgekeerde evolusie, maar die oënskynlike bravade in die liriek is ook tog ‘n tipe waarskuwing. Ander lirieke deur Moord Greeff is “Witwolke” van die album Spergebied, “Liena Mondegreen se filosofie” van Bazaar punk, asook die titelsnit van die album Strate sonder bome.

Van sy gedigte is in letterkundige tydskrifte soos New Ohio Review, Ons Klyntji, South Florida Poetry Journal en Thimble Literary Magazine gepubliseer. In 2024 is hy aangewys as die wenner van die Vallum Chapbook Award. Van sy video’s wat gedigte en drumming kombineer, is by ‘n aantal filmfeeste vertoon, onder andere die Raleigh Film & Art Festival en die Small File Media Festival by Simon Fraser Universiteit.

Volg Moord op YouTube, Instagram, of lees meer oor hom op sy persoonlike werf.