Albums, ens

Ontdekkersweg – musiekvideo

“Ontdekkersweg” kom van die album Strate sonder bome (2023). Oor als wat ‘n mens tweedehands op Ontdekkersweg kan vind – met ‘n toepaslike country twang. Ontdekkersweg verbind Mogale City (voorheen Krugersdorp) aan Johannesburg. As jy daarin ry, in Johannesburg se rigting, mond die straat uiteindelik in Brixton uit. Jy kan die Brixton-toring sien, al van Florida se kant af. Die video is in Ontdekkersweg deur Simon van Garderen en Andries Bezuidenhout verfilm, met bystand deur Lukas van Garderen, en is deur Simon van Garderen geredigeer.

Tape deck begrafnisbrief – musiekvideo

Van die album Strate sonder bome. Moord Greeff het die woorde geskryf na ‘n besoek aan Nicaragua, waar hy gesien het hoe mense musiek op sulke outydse boombokse speel terwyl hulle in ‘n begrafnisstoet ry. Kapelaan Pat Plank en Roof Bezuidenhout het die musiek gekomponeer. Die video is meestal van Brixton se strate, waar die tonele wat Moord in sy liriek beskryf afspeel. Die video is ook Apple Music en Tidal beskikbaar.

Strate sonder bome – musiekvideo

“Strate sonder bome” is die band se vyfde album se titelsnit. Die woord eis deur Moord Greeff geskryf en die melodie is ‘n samewerking tussen Roof Bezuidenhout en Kapelaan Pat Plank. Die videomateriaal kom uit Brixton se strate en die nagkarlane tussen huise – waar die nagkarre eeue gelede deur die voorstad gery het om slopemmers uit te gooi. Die lied gaan oor hoe ‘n mens soms op onwaarskynlike plekke ‘n werklike tuiste kan vind, al besef jy dit dalk nie op daardie stadium nie. Opgedra aan al die wegloperhonde.

Fransman se jas – musiekvideo

“Fransman se jas” kom van die band se vyfde album, Strate sonder bome. Woorde en musiek deur Roof Bezuidenhout. Die videomateriaal kom van die dorp Willowmore in die Karoo, op die pad tussen Uniondale en Graaff-Reinet, asook die pad tussen Kopenhagen en Berlyn. ‘n Lied oor tralies en vryheid.

Top Star – musiekvideo

Musiekvideo vir “Top Star” van die album Strate sonder bome. This music video contains English text that explains the history of the Top-Star Drive-In in Johannesburg. It was situated on top on one of the city’s many mine dumps and had spectacular views of the city skyline.

Pat Plank

Foto: Magriet Theron

Kapelaan Pat Plank se naam in die regte lewe is Gerhard Barnard. Hy is ‘n beeldhouer en musikant en woon in Pringlebaai in die Wes-Kaap. Hy het in 2002 reeds as lid van die Brixton Moord & Roof Orkes aangesluit, aanvanklik as elektriese kitaar-speler, maar deesdae ook baskitaar. Hy skryf ook van die band se musiek – onder andere die wysies vir twee van die band se gewildste songs, naamlik “Vis” (van die album Terug in skubbe) en die immergroen “C-Maximus” van die album Slaaptyd in die suburbs. Meer onlangs het hy ook begin om lirieke te skryf, soos “Die groot skabenga” van die album Bazaar punk en “Babelaas in Brixton” van die album Strate sonder bome. Vir laasgenoemde twee tracks het hy die musiek ook gekomponeer.

Gerhard se beeldhouwerke is beskikbaar deur die galery wat hom verteenwoordig – kyk hier.

Moord Greeff

Foto: Magriet Theron

Moord Greeff, andersins bekend as Ockert Greeff, woon in Montreal in Kanada. Hy is, saam met Roof Bezuidenhout, een van die twee stigterslede van die Brixton Moord & Roof Orkes. Hy is die band se drummer en percussionist en skryf ook lirieke. Hy is byvoorbeeld verantwoordelik vir die liriek van “Vis” van die album Terug in skubbe – ‘n slinkse verwerking van DJ Opperman se waarskuwing (in Komas uit ‘n bamboesstok) teen menslike regressie (of devolusie). In “Vis” omhels Moord Greeff die idee van omgekeerde evolusie, maar die oënskynlike bravade in die liriek is ook tog ‘n tipe waarskuwing. Ander lirieke deur Moord Greeff is “Witwolke” van die album Spergebied, “Liena Mondegreen se filosofie” van Bazaar punk, asook die titelsnit van die album Strate sonder bome.

Volg Moord op YouTube.

Roof Bezuidenhout

Foto: Carina Laubscher

Roof Bezuidenhout, soms ook bekend as Andries Bezuidenhout, is saam met Moord Greeff een van die Brixton Moord & Roof Orkes se twee stigterslede. Hy woon in Alice in die Oos-Kaap. Hy is ‘n musikant, digter en skilder. In die band speel hy meestal akoestiese kitaar en sing. Hy het ook die band se laaste twee albums by sy tuis-studio gemeng. Hy is verantwoordelik vir tracks soos “Geraamtes in jou kas” van die album Spergebied, “Spoed” en “Fortuinverteller” van Terug in skubbe, asook “Vrou op die trein in die skildery” van Strate sonder bome.

Volg Roof op YouTube.

Roof se persoonlike website, met musiek, kuns, gedigte, ens.

Vrou op die trein in die skildery – musiekvideo

Nuwe musiekvideo van die Brixton Moord & Roof Orkes se vyfde album Strate sonder bome (op 16 Desember 2023 beskikbaar). Die liriek gaan oor ‘n vrou wat alleen op ‘n trein sit, sy het rooi hare, sy lees ‘n tydskrif en drink sjampanje. Die sanger in die song wonder oor haar – sy lyk eensaam, maar ook of sy ‘n nuwe vryheid gevind het. Sy laat hom dink aan ‘n skildery van Ed Hopper, met ‘n soortgelyke toneel. Die video is met behulp van kunsmatige intelligensie gemaak, met ‘n estetika uit die 1930s – ‘n tipe art deco gevoel, soos in Hopper se realistiese skilderye van daardie tyd.