Tom Joad is ‘n karakter uit John Steinbeck se roman “The Grapes of Wrath”, wat aanvanklik in 1939 gepubliseer is. As fiktiewe karakter het Tom Joad nie net van Oklahoma na Kalifornië gereis nie, maar die roman verlaat en homself is twee ikoniese songs bevind, naamlik Woody Guthrie se “The Ballad of Tom Joad” en Bruce Springsteen se “The Ghost of Tom Joad”. Vir hierdie video van “Stofdorp” het ons die filmweergawe uit 1940, waarin Henry Fonda die karakter Tom Joad speel, gebruik om ‘n ander storielyn te skep. “Stofdorp” se woorde is deur Moord Greeff geskryf en speel waarskynlik in ‘n Suid-Afrikaanse dorpie af – ‘n ou paartjie ry in ‘n bakkie, ‘n jong man kom uit die stad aan en sien hulle raak, die twee halfblinde mense in hul effe patetiese karretjie. Maar hy besef dat die plek in die bakkie, agter die stuurwiel met ‘n lewe se teleurstellings en onsekerhede, ook sy voorland is. Ons het gedink die tonele in “The Grapes of Wrath” spreek tot hierdie realiteit. Eerder as om Tom Joad die hoofkarakter te maak, het ons tonele gaan soek waar sy ouers – Ma Joad en Pa Joad – op die voorgrond is. Hulle sit in ‘n Amerikaanse pickup truck uit die 1930s eerder as ‘n klein bakkie, maar uiteindelik, voel ons, is daar ‘n tipe spanning tussen die storielyn in die video en die storielyn in die liriek wat werk en ‘n nuwe storielyn aktiveer.

