Fortuinverteller – musiekvideo

Die musiekvideo is vervaardig om “Fortuinverteller” se twintigjarige bestaan te gedenk. Destyds het Erns Grundling daaroor geskryf: “Moenie my vra waarom nie, maar as ek ooit sou moes kies watter song ek sal wil speel by Afrikaans se begrafnis, sal dit ‘Fortuinverteller’ wees. Wanneer ons die moedertaal finaal in haar moer in bekommer het en sy ter helle neerdaal sonder enige beloftes van wederkomste en reïnkarnasies en ons dus sonder taal of tyding hurk, kniel en kruisbeen om die vars hopie grond … dan sal ek vir Andries Bezuidenhout wil opkommandeer om hierdie song as swanesang (swanesong?) te sing. O ja, Liela Groenewald se sang in die koorgedeelte is puik.” – uit Erns Grundling se resensie van “Terug in skubbe” vir LitNet.

Hierdie musiekvideo gebruik tonele uit klassieke films oor fortuinvertellers uit die eerste helfte van die vorige eeu. Onder andere die volgende: “Betty Boop in My Palm Read” (1932); “Bunco Squad” (1950); “Felix the Cat in Futuritzy” (1928); “The Crystal Ball” (1943); “The Leopard Man” (1943) en “Touch of Evil” (1958). Die tonele met Marlene Dietrich kom uit laasgenoemde film, waarin sy ‘n redelike onbelangrike rol vertolk. Ons weet nie hoe sy daaroor sou voel om in ‘n Brixton Moord en Roof Orkes video te verskyn nie, maar ons dink sy is die hoofrol. Okay, dis dalk te sterk gestel, maar sy’s moer cool as sy die rook so blaas.