Fortuinverteller – musiekvideo

Die musiekvideo is vervaardig om “Fortuinverteller” se twintigjarige bestaan te gedenk. Destyds het Erns Grundling daaroor geskryf: “Moenie my vra waarom nie, maar as ek ooit sou moes kies watter song ek sal wil speel by Afrikaans se begrafnis, sal dit ‘Fortuinverteller’ wees. Wanneer ons die moedertaal finaal in haar moer in bekommer het en sy ter helle neerdaal sonder enige beloftes van wederkomste en reïnkarnasies en ons dus sonder taal of tyding hurk, kniel en kruisbeen om die vars hopie grond … dan sal ek vir Andries Bezuidenhout wil opkommandeer om hierdie song as swanesang (swanesong?) te sing. O ja, Liela Groenewald se sang in die koorgedeelte is puik.” – uit Erns Grundling se resensie van “Terug in skubbe” vir LitNet.

Hierdie musiekvideo gebruik tonele uit klassieke films oor fortuinvertellers uit die eerste helfte van die vorige eeu. Onder andere die volgende: “Betty Boop in My Palm Read” (1932); “Bunco Squad” (1950); “Felix the Cat in Futuritzy” (1928); “The Crystal Ball” (1943); “The Leopard Man” (1943) en “Touch of Evil” (1958). Die tonele met Marlene Dietrich kom uit laasgenoemde film, waarin sy ‘n redelike onbelangrike rol vertolk. Ons weet nie hoe sy daaroor sou voel om in ‘n Brixton Moord en Roof Orkes video te verskyn nie, maar ons dink sy is die hoofrol. Okay, dis dalk te sterk gestel, maar sy’s moer cool as sy die rook so blaas.

Die Groot Ska-benga – musiekvideo

‘n Nuwe video uit ‘n baie ou movie vir ‘n ou song, maar nie so oud soos die movie nie. So iets. Ter verduideliking, ‘n uittreksel uit ‘n e-mail van Andries aan Gerhard en Ockert:

‘My kop is nog in vintage movies waarvan die kopiereg verval het. Dit pla my al lank dat ons geen musiekvideo’s vir Bazaar Punk het nie. Ek het met “Duiwelsbrood” begin, want ek hou veral van hoe over the top die ou horror movies is, veral as die vroue gil – ek het gedink die song het ‘n Gothic gevoel nodig […] Toe soek ek hard na ou movies met ‘n dominatrix vir “Die Groot Ska-benga”. Bestaan ongelukkig nie, maar ek het toe ‘n lekker een uit 1925 gevind – Lady of the Night is die movie se naam. In plaas van ‘n klomp movies aanmekaar las, dog ek toe ek gaan kyk of ek ‘n musiekvideo uit net een movie kan maak. Ek hou van die spanning wat tussen die storie in die song en die storie in die movie uitspeel – die storielyne is verskillend, maar albei handel oor mans wat grootmoedig is en dan hulle gatte sien. Die movie gaan oor veel meer, maar ek het daai een storielyn in die danssaal gaan uithaal. Die dansery werk lekker saam met die track. Die kennisgewing teen die muur wat “cheek to cheek dancing” verbied is vir my baie snaaks. Dis nogal ‘n tema in die toneel.’